Genooide gaste is vanaf vieruur Saterdagmiddag getrakteer op besigtigingstoere van al die verskillende fasette van Highgate. Vaardige werknemers het gewys hoe om 'n verestoffer in bietjie meer as 'n minuut te maak, hoe veel-kleurige boa's aanmekaargesit word en hoe vaal vere in 'n kleurvolle kunswerk omskep word.
Toeskouers is ook getrakteer met 'n egte volstruisresies en 'n paar gaste het sommer self hulle lyf volstruisjokkie gehou, sommige met meer sukses as ander.
Na afloop van die toere het die verrigtinge in die ruim lapa voortgegaan met musiek deur die bekende plaaslike musikant Charlie Nunn en die veelsydige liedjieskrywer en sanger Stef Kruger wat verantwoordelik was vir die meeste van Dozi se trefferliedjies.
Die uiters vermaaklike en talentvolle Kambroo Diggers het die geskiedenis van die Klein-Karoo en Oudtshoorn treffend uitgebeeld en die gehoor laat skater van die lag.
Die Keller-broers het met groot lof van die Hooper gesin, wat Highgate begin het, gepraat en bevestig dat die skouplaas sy bekendheid verwerf het deur die toewyding en beplanning van die Hoopers. Inwoners van Oudtshoorn kan Highgate gratis besoek mits hulle besoekers van buite die dorp vergesel.

Die Keller familie en vriende: Van links staan Viljee, Hanlie, Ockert Vermeulen, Louise, Johan, Nicki Vermaak, Marna en Herculine. Foto: Jo-Marie de Kock
Casper le Roux van Penny Pinchers het sy lyf volstruisjokkie gehou voordat die volstruis hom afgegooi het.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn | Klein-Karoo nuus'