Tydens 'n glansfunksie in Langebaan het die eienaar, Gert Niehaus behoorlik breëbors gestaan soos sy agentskap se naam uitgelees is om die toekennings af te haal.
Behalwe vir die feit dat hulle met die eerste prys uit 30 provinsiale agentskappe in die Wes-Kaap weggestap het, is hulle ook nasionaal aangewys as een van die ses beste agentskappe wat groei binne die besigheid aanbetref. Daar is 180 AVBOB-takke landswyd. Die Wes-Kaapse toekenning vir die beste grafsteenverkope is ook aan Niehaus toegeken.
Niehaus, wat ook 'n finalis was vir die 2011/2012 George sakeman van die jaar, het gesê hy het 'n passie vir sy werk. "Ek deel in die mense wat geliefdes aan die dood afstaan se leed." Met verwysings na die begrafnisse van die Rheenendal-busramp, waar Niehaus die 15 slagoffers gratis begrawe het, het hy gesê: "Ek het dit gratis gedoen omdat ek net soos die families die seer kon voel."
Niehaus is ook 'n DA-raadslid in die George-munisipaliteit.

AVBOB George is amptelik aangewys as die beste AVBOB-agentskap in die Wes-Kaap. Van links is Albert Roelofse, Rose Nyakala, Toya Hatjies, Gert Niehaus (eienaar), Yolanda Swanepoel en Pieter Claassen. Afwesig: Johan van Wyk.