OUDTSHOORN NUUS - Slegs vyf jaar nadat De Rustica Estate buite De Rust begin het met die produksie van olyfolie is hulle naam reeds gevestig as een van die bestes in die land.
Die jongste prestasie van De Rustica is twee weke gelede behaal toe hulle Estate Collection Coratina aangewys is aan van die Absa Top-10-olyflolies in die land.
Meer as 90 Suid-Afrikaanse olyfolies wat van die 2017 oes gepers is, is beoordeel. Die Estate Collection Coratina het ook op 20 September 'n spesiale internasionale vermelding ontvang tydens die Sol d'Oro Southern Hemisphere-kompetisie wat in Osaka, Japan, gehou is.
Dat De Rustica kwaliteit olyfolie produseer is ook bevestig toe die landgoed die enigste een in die land was wat tydens die 2017 SA Olyftoekennings drie goue medaljes kon verower.
Nog 'n De Rustica-olie wat uitstekend presteer het is die Estate Collection Frantoio wat een van die goue medaljes by die SA Olyftoekennings ontvang het. Dit het ook 'n silwermedalje in Japan ontvang. Aangesien elke olyfolieprodusent slegs een olie vir die Absa Top-10 mag inskryf, kon die Frantoio nie daar ook kompeteer nie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'