Die wenresep wat die drie besighede steeds op inwoners en besoekers se gereelde inko-pielyste hou het pas nog 'n paar bestanddele bygekry. Camp Bakery wat reeds 9 000 brode per dag bak het verlede week uitgebrei na Wes-Handelshuis waar splinternuwe oonde ingerig is.
Volgens Jaco Vorster, een van die drie vennote, het hulle geen ander keuse gehad as om die bakkery uit te brei nie. "Nou het ons een bakkery op twee persele en nou kan elke perseel spesialiseer om in kliënte se behoeftes te voorsien."
Hy verduidelik dat die bakkery-gedeelte wat pas in Wes-Handelshuis oopgemaak het voortaan gaan sorg vir alle spesialiteitsbroodjies, pasteie, broodrolletjies en die gewilde Camp Bakery koekies.
"Daar is so 'n groeiende vraag na ons brode en broodprodukte dat ons eenvoudig net moes uitbrei."
Die volledige kapasiteit van die oorspronklike Camp Bakery gaan nou gebruik word om die gewilde Camp-brode te bak, wat beteken dat die bakery se huidige vermoë van 9 000 brode kan uitbrei na 13 000 brode per dag.
"Dan," skerts hy "moes ons ook hier by Wes-Handelshuis begin broodbak, want wat is 'n tradisionele handelshuis dan nou sonder die geur van vars brood?"
Vir Jaco, Johan en Zonia is dit opwindend om te sien hoe die Handelshuis voortdurend verander en vorm aanneem. Die vaal oninte-ressante winkelrakke is vining besig om plek te maak vir natuurlike houtkratte wat die atmosfeer van die oorspronklike handelshuis-era weer vasvang. Tydens die besoek van die Oudtshoorn Courant was Zonia juis besig om nuwe houers en rakke te verf; 'n bewys dat die drie vennote presies weet hoe hulle droom lyk en self moue oprol om dit te laat realiseer.
Die uitbreiding van die bakkery is natuurlik ook goeie nuus vir die arbeidsmark aangesien uitbreiding ook nuwe werksgeleenthede beteken en daarmee kom die eienaars nog 'n onderneming na wat hulle 18 maande gelede gemaak het toe hulle die besighede gekoop het; om in die gemeenskap te belê en onder andere nuwe werksgeleenthede te skep.
Wes-Handelshuis kom al van 1952 af saam met Oudtshoorn en sy mense en daarom is kliënte die spil waarom alles draai. "Ons hoop ons kliënte hou van die nuwe gevoel in die Handelshuis, want hulle opinie is vir ons baie belangrik," sê Jaco.
Die uitbreiding van die bakkery, wat onder die deeglike bestuur van Giepie van Zyl funksioneer is volgens die drie eienaars nog lank nie die laaste verwikkeling nie. "Die Camp Bakery Extension was bloot 'n volgende verwikkeling op die plan wat ons 18 maande gelede neergelê het en ons werk elke dag daaraan om die plan stukkie vir stukkie te laat ontvou."
Die nuwe gedeelte van die bakkery het reeds op 13 November 'n toetslopie deurgedraf en is sedert verlede Vrydag volstoom aan die werk. Klante kan gerus by Wes-Handelshuis op die hoek van Voortrekkerweg en Buitekantstraat gaan inloer en sommer deur die groot glasafskorting staan en kyk hoe word hulle broodjies voor hulle oë gaar.
Camp Bakery Extension, wat 'n week gelede in Wes-Handelshuis begin bak het, is volstoom aan die gang. Van links is die eienaars Jaco Vorster, Johan van Heerden en Zonia Brink by die bakkerybestuurder Giepie van Zyl. Terwyl hulle vir die kamera glimag is die bakkers hard aan die werskaf met die dag se voorraad. Foto: Hannes Visser
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus'