OUDTSHOORN NUUS - Die kwaliteit van Suid-Afrikaanse portstyl wyne, is weer beklemtoon met die onlangse vrystelling van een van die jaar se omvangrykste oorsigte van Suid-Afrikaanse wyne, deur 'n internasionale wynkenner.
Die Suid-Afrikaanse Spesiale Verslag 2017 deur die VK se Master of Wine (MW) Tim Atkin, besing terselfdertyd ook die lof van die uitstekende kwaliteitwyne wat van tradisionele portkultivars gemaak word.
Atikin, wat wyne punte uit 100 toeken, het die Boplaas Cape Vintage Reserve Port 2015 'n totaal van 94 en aan die Boplaas Family Reserve Gamka 2015 en Gamka Branca 2016, elkeen 91 punte toegeken. Atkin se Suid-Afrikaanse Spesiale Verslag 2017 is in sy sesde jaargang en beslaan meer as 200 bladsye.
Dit is die produk van twee reise na die Kaap, sowel as verdere proeë in die Verenigde Koninkryk en Duitsland.
Dit sluit puntetellings vir meer as 1 400 wyne, met hul kleinhandelpryse wat wissel van R40 tot R4 900 in.
"Tim Atkin is 'n invloedryke kommentator in een van die grootste markte vir Suid-Afrikaanse produsente en dus word sy opinie hoog aangeslaan," sê Boplaas se eienaar, Carel Nel, wat die wynmaakpligte met sy dogter, Margaux, deel.
Boplaas se wyne se prestasies in die Suid-Afrikaanse Spesiale Verslag 2017, sowel as ander gerekende plaaslike- en internasionale kompetisies, is die resultaat van hul aanslag om die potensiaal te ontgin van Portugese variëteite wat tradisioneel in gefortifiseerde wyne gebruik word, en nou goeie tafelwyne te maak.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'