OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn Besigheidskamer het die jaar se verrigtinge verlede Donderdaaand met 'n gala-geleentheid vir meer as 100 gaste by Surval Boutique Olive Estate afgesluit.
Tydens sy verwelkoming het Gideon Badenhorst, voorsitter van die besigheidskamer, sy dank teenoor lede en die sakesektor in die algemeen uitgespreek vir die wyse waarop die besigheidskamer se netwerkaande en gholfdae ondersteun word.
Hy het verskeie positiewe kwessies van die afgelope jaar uitgewys en beklemtoon dat die bestuur deurentyd na nuwe maniere kyk om positief tot die sakesektor by te dra.
Hy het toegegee dat Oudtshoorn steeds deur groot uitdagings in die gesig gestaar word, maar bygvoeg dat daar reeds groot vordering gemaak is met die dorp se herstelproses.
Hy het gesê dit is verblydend dat die besigheidskamer op 'n gereelde basis met die munisipaliteit kan gesels en beplan en dat daar ook geleentheid is om dinge wat nie reg loop nie met die munisipale bestuur uit te klaar.
Die gasspreker van die aand was Japie Breedt, motiveringspreker en kenner op die vlak van verhoudingsleierskap.
Die kern van sy boodskap was dat leierskap saam met 'n veranderende wêreld, deurentyd verander.
Die gasspreker, Japie Breedt, ontvang 'n geskenk na afloop van sy praatjie. By hom is, van links: Jaco Vorster (programdirekteur), Helen Butler (kantoorbestuurder van die besigheidskamer) en Gideon Badenhorst (voorsitter van die besigheidskamer).
"Leierskap is lankal nie meer 'n posisie of 'n titel nie. Leierskap is 'n funksie in spanverband.
Leierskap is vandag 'n verhouding met mense en die sukses van 'n leier word bepaal deur hoe hy daardie verhouding bestuur.
Die gala-aand is deur Nedbank geborg.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'