Gallery
OUDTSHOORN SAKENUUS - Om die oudste volstruisskouplaas in die wêreld te besit en 50 000 besoekers 'n jaar te ontvang sit nie in elkeen se broek nie.
Voeg daarby die 19 000 gaste wat per jaar in die Keller-broers se gastehuise oorslaap en mens sal verstaan met watter passie Johan en Villiers en hulle vrouens Louise en Hanlie die Highgate-volstruisskouplaas en drie gastehuise bestuur.
Die Kellers, met diep wortels in die landbou, het Highgate vier jaar gelede gekoop en as onderneming by hulle bestaande boerdery en gastehuise, Mooiplaas, De Denne en Van der Stel Manor in Stellenbosch gevoeg.
"Ons het vyftien jaar gelede in toerisme belê toe ons die gastehuise begin het en ons was bevoorreg om Highgate, wat vanjaar tagtig is, by die Hoopers te kon koop," sê Johan.
Sedertdien het Highgate met reusespronge vooruitgegaan en is vandag 'n toonaangewende toerismebestemming. Besoekers kan met begeleide toere die hele spektrum van die volstruisbedryf op Highgate ervaar, vanaf die eiers, tot kuikens, interaksie en toegang tot die plaas se eie verwerkingsaanleg met werkswinkels en vertoonlokaal.
Highgate se restaurant, The Pepper Tree, is bekend vir uitsoekgeregte en die ideale plek om te ontspan.
"Die hoogtepunt van ons besigheid is dat ons vir 152 mense uit die plaaslike gemeenskap werksgeleenthede skep om hulle families te onderhou," sê Johan. Oor die tagtigjarige bestaan van Highgate sê hy dat hulle in besonder dankbaar is vir die jare lange ondersteuning deur die mense van Oudtshoorn en die omgewing. "Alhoewel die meeste van ons besoekers van buite is, kom plaaslike mense gereeld Highgate toe en verwys dikwels besoekers. Ons wil hulle in besonder bedank vir hulle ondersteuning."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'