OUDTSHOORN NUUSFLITS - Volgens die nasionale misdaadstatistiek wat onlangs bekend gemaak is, het veediefstal landwyd gemiddeld met 7% toegeneem.
“Omdat meer as 60% van veediefstalsake nie aangemeld word nie, kan ons nie met sekerheid sê hoeveel veediefstal in die Klein Karoo toegeneem het nie, maar daar is beslis ‘n toename,” sê a.o. Fasie de Kock, operasionele bevelvoerder van die Oudtshoorn eenheid vir veediefstal en bedreigde spesies.
Plaasdiere wat geteiken word, sluit skape, volstruise, perde en varke in.
Diefstal van skape vind byna daagliks plaas. In een geval vroeër vanjaar is altesaam 56 skape op een boer se plaas gesteel. Volgens De kock was die boer met verlof en het klaarblyklik die buurman gevra om ‘n oog op sy plaas te hou.
Toe hy terugkom, was sy skape weg. Die buurman het blykbaar gesien die hekke lê oop, maar nie ondersoek ingestel nie. In twee ander gevalle die afgelope maand is vasgebinde skape langs die pad gevind.
Volgens hom word volstruise van vere gestroop wat dan verkoop word. “In een geval is drie plaaswerkers aangekeer wat 10 kg vere ter waarde van R10 000 gepluk en verkwansel is vir R50 en ‘n 5liter-kan wyn elk. In nog ‘n geval is volstruise so erg gepluk dat een gevrek het."
Lees meer in Vrydag se Oudtshoorn Courant, as ook aanlyn.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'