Droërivier Boerdery is 'n nuwe saadproduksie-onderneming wat as 'n privaat maatskappy bedryf word met twee opkomende boere Poem Mooney en Pieter Stuurman en kommersiële uiesaadprodusent Hennie Schoeman as aandeelhouers.
Hulle het Woensdag 'n nuwe trekker, gifspuit, kunsmisstrooier en tandploeg vir die verbouing van groente vir saad van die Wes-Kaapse departement van landbou (WKDVL) se Saadproduksie-Kommoditeitskomitee (CPAC) ontvang.
Die komitee het Casidra (Cape Agency for Sustainable Integrated Development in Rural Areas) aangestel om die boerdery-infrastruktuur aan te koop.
Die boerdery gaan 2 ha nuwe lente-uie produseer vir die lewering van saad aan Klein Karoo Saadproduksie (KKSP). Hul hoop om binnekort ook 'n sybokhaar vertakking in te sluit by die boerdery.
"KKSP verskaf die moedersaad wat gebruik word vir die vermeerdering van kommersiële saad, finansiering vir aanvanklike boerdery insette, bedryf kundigheid en 'n kontrak vir die le-wering van saad," het David Malan, besturende direkteur van KKSP gesê.
Die maatskappy se tegniese voorligter vir die betrokke streek besoek minstens elke twee weke die landerye op Droërivier Boerdery.
Moontlike projekte moet aan streng vereistes voldoen, waarvan toegang tot geskikte grond en water maar enkele is. "Die uiteindelik moet daar werklike bemagtiging wees en werkskepping binne landbou wees," het Malan gesê.
"Wanneer Droërivier Boerdery 'n wins toon, gaan ons drie help wys dat opkomende en gevestigde kommersiële boere saam 'n sukses van landboubemagtiging kan maak," aldus Mooney.
Ook ander opkomende kommersiële saadprodusente is deur middel van dieselfde kommoditeitskomitee bygestaan. "Ons soek na nog lewensvatbare geleenthede om te help," het Malan gesê.
Belangstellendes kan Philip Swart kontak by 044 803 3750 of philips@elsenburg.com.

Tydens die oorhandiging van die trekker Woensdag is, van links: David Malan (KKSP), Philip Swart (Wes-Kaapse departement van landbou), Pieter Stuurman, Hennie Schoeman en Poem Mooney (die drie boere), Fanie Smit (Kango Saad) en Jannie Lötter van Casidra bewonder die trekker en toerusting.
ARTIKEL EN FOTO: TISHA STEYN
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Kleink-Karoo nuus'