OUDTSHOORN NUUS - Weeber Truter en sy seun, Martino, het 'n rekordprys van R520,50 /kg vir winter-kleinbokkie (2de skeer) op Cape Mohair & Wool (CMW) sybokhaarveiling behaal.
"Dit is die eerste keer in vier jaar dat daar weer 'n winter-kleinbokkie (2de skeer) deur die prysgrens van R500/kg gebreek het," sê Pierre van der Vyver, Bestuurder: Sybokhaar by die landbou-onderneming, OVK.
Volgens Van der Vyver het die markprys sedert November 2017 aanhou styg met sowat 8% per veiling. "In dieselfde tydperk het die rand met 16,1 % versterk teenoor die Amerikaanse dollar, en in reële terme het die mark dus met 24,1 % gestyg."
Truter boer die afgelope 38 jaar op Trutersdal naby Herold. Sy seun Martino, 'n veearts wat in George praktiseer, se kundigheid dra verder by tot die suksesvolle sybokhaarboerdery.
"Weens die droogte moes ek my kudde met 'n derde verminder, maar boer nog met sowat 4 000 sybokke. Voerskenkings van 'n klomp individue en instansies het dit vir my moontlik gemaak om 'n kernkudde te behou."
Weeber Truter en sy seun, Martino, het 'n rekordprys van R520,50 /kg vir winter-kleinbokkie (2de skeer) op Cape Mohair & Wool (CMW) sybokhaarveiling behaal.
Hy skryf sy sukses toe aan goeie bestuur en daaglikse toesig, gereelde parasietbeheer en goeie voer.
"Die droogte het ons gedwing om te voer en so kon ek die regte lengte en mikron lewer."
ARTIKEL: TISHA STEYN, OUDTSHOORN COURANT KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'