Video
PRINS ALBERT NUUS EN VIDEO - Meer as eenduisend bale en tweehonderd ton veevoer is die afgelope naweek na Prins Albert uit die Overberg aangery om sukkelende boere in die droogtegeteisterde Groot-Karoo te help.
Ná onderhandeling deur die Prins Albert-landbougenootskap, onder voorsitterskap van Madri Rossouw, en Samie Luttig jr. het 35 boere van die Riviersonderend- en Klipdale-omgewing Saterdag 105 klein lusernbale, 200 hawerhooibale, 24 ronde bale garsstrooi, 405 blokbale gars en 390 blokbale koring, asook 210 ton sakke veevoer met 26 reusevragmotors na Prins Albert aangery.
Hulle is vergesel van hul predikant, ds. Johan Orsmond van die NG kerk Riviersonderend. Ds. Johan Botes van Prins Albert en talle boere van die omgewing, hul gesinne en plaaswerkers het die vragmotors ingewag.
In sy bedankingstoespraak het Joseph Steyn van Prins Albert gesê: “’n Mens se gemoed skiet vol as jy sien hoe medeboere ’n deel van hul vermoë aan ons afstaan. Ek kan ek nie glo dat ander mense dít vir ons gemeenskap doen nie. Prins Albert kry weens die droogte op verskillende vlakke swaar.”
Kyk 'n video hieronder:
Lees meer in Vrydag se Oudtshoorn Courant, as ook aanlyn.
Andre Botes en Samie Luttig jr, hier saam met Mias Rossouw (middel), vier die voerskenkingsgeleentheid. Foto: Marlene Malan
'Ons bring jou die nuutste Prins Albert, Klein Karoo nuus'