SUID-KAAP NUUS - Die prysuitdeling van die Wes-Kaapse Prestige-landboutoekennings vind plaas op Woensdag 23 Augustus tydens 'n glansryke geleentheid op die George-skouterrein.
Dit is die eerste jaar dat hierdie kompetisie in die Tuinroete plaasvind. Groot pryse is op die spel vir wenners asook deelnemende plase.
Die toekennings het ontstaan om erkenning te gee aan die waardevolle en belangrike bydrae wat landbouwerkers tot die volhoubaarheid en groei van die landbousektor in die Wes-Kaap lewer.
Met die aanbieding van die kompetisie wil die Wes-Kaapse departement van landbou landbouwerkers se vooruitsigte en verstaan van die landbousektor verbreed en hulle aan nuwe lewenservarings blootstel. Dit het verder ten doel om landbouwerkers te motiveer om hul kennis en vaardighede te verbeter, wat uiteindelik persoonlike groei teweegbring en geleenthede vir toekomstige loopbaanontwikkeling onthul.
Die landboutekennings is in 2002 in die Hexvallei deur die Hexvallei-tafeldruifvereniging begin. In 2005 het die Wes-Kaapse departement van landbou as borg tot die kompetisie toegetree. Die kompetisie het gegroei van 36 inskrywings in die Hexvallei tot die deelname van 15 streke in 2016 met 1 245 inskrywings. Shoprite het in 2012 die kompetisie finansieel begin ondersteun en is tesame met die departement medeborge van die kompetisie.
Boere wat belangstel om hul landbouwerkers in te skryf vir die 2018-kompetisie kan met Susan Willemse in verbinding tree by 082 881 3305 of 044 873 4165.
Alle landbouwerkers - dit is enige persoon wat deel vorm van en 'n bydrae tot die boerdery lewer - mag deelneem.
Kategorieë
Kategorieë waarin deelgeneem kan word is: Algemene werker, trekkerdrywer, administratiewe personeel, diereproduksie, tegniese operateur, besproeiingspesialis, sosiale ontwikkeling, landbou-verwerking, voorman/-vrou, junior bestuur, asook middelbestuur.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Klein Karoo, Hessequa nuus'