Die grond waar die volstruisnavorsingsplaas gevestig sou word is in 1964 van S Schoeman gekoop met die doel om navorsing op die volstruisbedryf in die Oudtshoorndistrik te doen waar talle boere hul hoop op die bedryf gevestig het.
Die eerste plaasbestuurder was C van Zyl, maar is kort daarna deur AP Koen vervang, wat die pos tot 1983 beklee het.
Koen het die landerye voorberei vir vloedbesproeiing, dreineringspype gelê, en kanale en ‘n dam met ‘n inhoudsmaat van 30 000 m3 gebou. Hy het ook toesig gehou oor die bou van huise, kantore en skure. Gedurende daardie vroeë jare is die pragtige ou volstruispaleis op die terrein gebruik as kantore.
Die departement van landbou en landbouverenigings in die Klein Karoo het ‘n komitee aangewys wat navorsingsprojekte bestuur het. Boere in die omgewing het 84 broeivolstruise geskenk en so het die eerste volstruisnavorsingsplaas ter wêreld tot stand gekom.
Die komitee het ook die bou van ‘n kraal, kampies en agt voerkratte befonds. Alternatiewe gewasse soos lusern, mielies, wintergraan en ‘n wingerd is aangeplant. Die gewasse is mettertyd uitgebou en word vandag nog onderhou.
In 1970 is die volstruisafdeling uitgebrei om ‘n broeimasjien, dissekteerkamer, kuikenhuis, 18 broeikampe, 10 kuikenkampte en 8 voerkratte vir die voer van individuele voëls in te sluit. In die kuikenhuise kom groepe kuikens onder beheerde toestande van uitbroei tot sowat twee maande oud grootgemaak word.
Kobus Nel is in 1972 aangestel om toesig tye hou oor die navorsingsprojekte op die plaas. In daardie stadium is daar met sowat 60 000 volstruise in die omgewing geboer en navorsing op die plaas het baie bygedra tot die sukses van die bedryf.
In 1974 is Derick Swart aangestel as die eerste wetenskaplike wat gefokus het op volstruisnavorsings. Hy het met dr JH Louw saamgewerk op die kwaliteit van volstuisvere te verbeter.
Die navorsingsplaas se volstruis kudde is in die 1980’s uitgebrei deur ‘n skenking van volwasse kommersiële broeivoels. Mettertyd is die kudde uitgebrei en teelvoëls is vanuit die kudde bekom.
In 1983 het Piet Roux as bestuurder oorgeneem tot en met sy aftrede twee jaar gelede.
Vandag is die plaas nog steeds die enigste volstruisnavorsingsentrum ter wereld en verskeie buitelandse navorsingsvennote bring gereeld tyd op die plaas deur om hulle navorsing uit te voer.
Van die gaste verkeer gesellig voordat die amptelike verrigtinge begin.
ARTIKEL: TISHA STEYN
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'