OUDTSHOORN NUUS - Daar is 'n moontlikheid vir die stigting van 'n ontwikkelingsfonds vir die wolbedryf. Dit volg nadat die NWKV se nasionale bestuur 'n uitgebreide debat oor die kwessie gevoer het.
Dit word gedoen teen die agtergrond van eksterne ontwikkelingsfondse wat tans aan die afneem is (bv. fondse uit regeringsbronne), ekonomiese druk op bestaande bedryfsbates en -beleggings, asook uitdagings in ontwikkelingsvennootskappe.
Die beoogde fonds sal van groot belang wees om die wolbedryf meer selfonderhoudend te maak terwyl dit steeds gehaltestandaarde en ontwikkelingsinisiatiewe handhaaf.
'n Bedryfsfonds kan slegs in plek gestel word met die ondersteuning van die wolprodusent. Dié fonds sal projekte help finansier wat tot voordeel vir die totale waardeketting sal wees. Indien sodanige fonds deur die wolbedryf self ingestel word, het die bedryf volledig beheer oor die fonds en dus oor elke rand wat gevorder word.
Dit is in teenstelling met 'n statutêre heffing met 'n hele aantal reëls en regulasies waar die wolprodusent nie volle beheer het oor die fondse wat ingewin word nie. Die SA Wol- en Bokhaarkopersvereniging (Sawamba) sal oorweging daaraan skenk om die fondse op dieselfde wyse in te samel as dié wat vir wolbevordering geld.
'n Ontwikkelingsfonds van dié aard sal vir 'n tydperk van vier jaar ingestel word om spesifieke, geïdentifiseerde projekte te finansier en wat in belang van die hele wolbedryf is. Daarna sal toekomstige finansiering en projekte heroorweeg word, afhangend van die omstandighede en ondersteuning. Volledige sakeplanne en 'n oudit sal die aanwending van die fondse duidelik spesifiseer en kontroleer.
Die volgende projekte vir finansiering uit dié fonds word in die vooruitsig gestel:
- Skeeropleiding om hierdie vaardigheid in Suid-Afrika te behou;
- Instandhouding van monitorplase ter ondersteuning en navorsing van gesonde predasiebestuurspraktyke (tans 29 monitorplase landswyd); en
- Verbeterde kommunikasie in die bedryf deur die Wolboer-tydskrif na alle belanghebbendes in die waardeketting (insluitend produsente) te versprei.
Koste vir produsent
Om uitvoering te gee aan hierdie projekte word 'n bedrag van nagenoeg R5,8 miljoen per jaar benodig.
As in ag geneem word dat dat die totale waarde van die skeersel wat in die 2016/17 uitgevoer is, meer as R4,29 miljard beloop het beteken dit dat die bydrae van wolprodusente slegs 0,135% van die totale waarde van die skeersel sal beloop..
Die Sawamba-heffing sal met slegs 7c/kg verhoog word – vanaf 15c/kg tot 22c/kg – om 'n fonds vir wolbevordering (nasionaal en internasionaal), asook genoemde projekte te vestig. Woltrustfondse sal steeds vir goedgekeurde ontwikkelingsprojekte, adviesdienste, navorsing, statistieke, inligting en promosies, soos goedgekeur deur Cape Wools SA (CWSA), aangewend word.
Die bedrag wat ingevorder word, sluit 'n vorderingsbedrag van R150 000 in. CWSA sal die fonds bestuur en laat oudit, ter finansiering van die genoemde projekte.
Enige navrae en onduidelikhede kan gerig word aan die NWKV by nwga@nwga.co.za (e-pos), per foon by 041 365 5030, of raadpleeg die webwerf.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'