Die voedseltuinkompetisie is twee jaar gelede op Wêreldvoedseldag van stapel gestuur en 45 huishoudelike tuine en agt gemeenskaplike tuine is oor 'n tydperk van twee maande vir die pryse beoordeel.
"Mense sal in plekke soos Dysselsdorp nie kan eet indien hulle nie produseer nie. Die volgende oorlog sal oor kos gaan," het Van Rensburg gesê. Hy het inwoners van Dysselsdorp versoek om hul kinders aan te moedig om in landbou te studeer en belowe dat hy sal help met beurse en dat hulle werk kry.
"Wat julle op Dysselsdorp onder moeilike omstandighede doen is uitstekend en iets waarop almal baie trots behoort te wees," het die minister gesê.
Volgens Van Rensburg is Dysselsdorp 'n voorbeeld vir so baie in die land wat grond gekry het en vandag met mislukte projekte sit. Hy het gesê hy hoop die toekennings inspireer andere.
"Ons sal in die toekoms met minder grond meer moet produseer en landbou bevorder. Nuwe tendense is nodig en ons sal moet praat van die landbou wat "cool and sexy" is."
Hy sê die mensdom sal teen 2030 sowat 50% meer voedsel, 50% meer krag en 30% meer water nodig hê om te oorleef.
Van Rensburg het sy dank teenoor die Oudtshoorn-munisipaliteit, die Dysselsdorp Raad van Rolspelers en die Departement van Gesondheid uitgespreek vir die ondersteuning van die projek. Hy het ook die hoop uitgespreek dat nog inwoners van Dysselsdorp met hul eie voedseltuine sal begin.
Die onderskeie wenners was:
Gemeenskaplike tuine: Eerste prys: Poplap Kleuterskool (R7 000), Tweede prys: Kabouter Nessie Kleuterskool (R3 000); Derde prys: Pinkster Protestante Kerk (R1 250).
Huishoudelike tuine: Eerste prys: Stephanus Campher (R5 000); Tweede prys: Joseph Lewis (R2 000); Derde prys: Dinah Pypers (R1 750).
Die Poplap Kleuterskool was die wenner van die gemeenskaplike tuine. Die skoolhoof, me. Cathleen de Bruin en 'n personeellid, me. Christina Augus, asook 'n paar kleutersontvang die toekenning en 'n welkome R7 000 van minister Van Rensburg en mnr. Mogale Sebopetsa.