Gallery
OUDTSHOORN LANDBOUNUUS - Klein Karoo Agri se jaarlikse funksie om die landbouer van die jaar in verskillende kategorieë aan te wys is Vrydagaand in Oudtshoorn gehou.
Altesaam 69 landbouwerkers het tydens 'n glansdinee by De Opstal-restaurant erkenning ontvang vir hul harde werk op plase in die Klein-Karoo.
Die funksie is vanjaar weer deur die departement van landbou se afdeling van landelike ontwikkeling aangebied.
Die beoordelaars was Evon Mayekiso van landelike ontwikkeling, Alwin Fuller en Carien Snyman, albei van die departement se afdeling landbouwerker ondersteuning en ontwikkeling.
Shoprite, wat vanjaar vir die sewende keer die hoofborg van die geleentheid was, is deur Chris Schutte verteenwoordig.
Kommersiële boere wat lid is van Agri Klein Karoo skryf jaarliks hul werkers in vir die verskillende kategorieë, terwyl die plaas wat die meeste wenners oplewer ook erkenning kry.
Andrew Jafta, van die plaas Le Mirage, is as Klein-Karoo se landbouwerker van die jaar aangewys. Letitia Booysen, van Joey Potgieter se plaas Welbedacht is aangewys as die werker met die beste potensiaal om in die toekoms die algehele wenner van die kompetisie te wees. De Rustica is aangewys as die plaas wat die beste presteer het en ses wenners opgelewer het.
Die eersteplekwenners dring deur na die Wes-Kaapse landbouwerker van die jaar wat later vanjaar aangewys sal word.
Vanjaar se wenners en twee naaswenners in die verskillende kategorieë, is:
Algemene plaaswerker: Andrew Jafta, van die plaas Le Mirage (Saag Jonker Groep); Marius Joseph van Greylands (Saag Jonker Groep) in tweede plek; Allistair Loff van Highgate in derde plek
Trekkerdrywer: Chester de Laan, van die plaas Kammanassie (Saag Jonker Groep); Jacobus Adoons van Greylands; Karel Kortjie van Normandien Plase
Besproeiingspesialis: Dawid van Rooi van die plaas Vredelus; Jafat Meyer van De Rustica; Johannes Arnoldus van Amalienstein
Tegniese operateur: Gert Stuurman van De Rustica; Anthony Goeta van Doornkraal; Sidwel Kerspuy van Kumquat Vervoer (Saag Jonker Groep)
Diereproduksie: Anver Britz van die plaas Welbedacht (Saag Jonker Groep); Deswil Conradie van Vredelus; Rumanci Fienies van De Rustica
Sosiale ontwikkeling: Letitia Booysen van Joey Potgieter se plaas Welbedacht; Liticha Fortuin van Amalienstein; Petronella Claassen van Greylands
Administratiewe personeel: Elledine Visagie van OJH Boerdery; Salome April van Amalienstein; Christien Blou van De Rustica
Voorman: Jetro van Rooyen van die plaas Ezeljacht; Eugene Camoetie van OJH Boerdery; Hamilton le Roux van JLA Boerdery
Junior bestuur: Isak Damons van De Rustica; Joseph Basson van Greylands; Raquel Gradwell van OJH Boerdery
Middelbestuur: Michael Arends van Kumquat Voerfabriek (Saag Jonker Groep); Pedro Arnoldus van Amalienstein; Jumat Blou van De Rustica
Landbouverwerking: Isak Basson van Joey Potgieter se plaas Welbedacht; Lydia Linters van Doornkraal; Melanie Buffel van Amalienstein
Die wenners is aangekondig deur Ricardo Timmie, wat in 2008 vir die eerste keer deur Joey Potgieter in die kategorie algemene plaaswerker ingeskryf is, en verlede jaar die streekwenner was. "Julle is rolmodelle en die leiers van die gemeenskap. Ek wil vir julle sê harde werk werp vrugte af. Dis nie altyd maanskyn en rose nie, maar ek het aanhoudend gebid en vir die Here gevra om my uithouvermoë te gee; vandag doen ek dit wat destyds vir my 'n groot uitdaging in die volstruisbroeikamer was, met toe oë: boer is in my bloed."
Boervrou Mandy Potgieter, die hoofspreker, het met die werkers se harte gepraat. "Elkeen van julle het mooi eienskappe, soos geloof, liefde, toewyding en dissipline. Julle moet hierdie eienskappe soos in 'n afloswedloop in atletiek, vir die volgende generasie aangee. Ons leef in 'n tyd waar baie vaders afwesig is, maar julle moet die bure se kinders ook inspireer om hierdie goeie eienskappe te ontwikkel, want hulle moet die stokkie by julle oorvat."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'