Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - Vrywilligers van SA Water Warriors het Saterdag vir groot glimlagte en 'n hele aantal knoppe in kele gesorg toe hulle met vragte kos en water vir landbouers, opgedaag het.
Volgens Pieter du Plessis het SA Water Warriors aanvanklik begin as 'n organisasie wat water aan droogte geteisterde gebiede voorsien. "Maar ons het gou besef dat die droogte nie net beteken mense het nie water nie; mense en diere ly honger op plase."
Volgens hom besef mense nie in watter benarde posisie boere en hulle werkers hulself bevind nie. "Daar is plase wat as gevolg van die droogte bykans geen inkomste verdien nie en dit beteken mense se koskaste is leeg."
SA Water Warriors is deur Deon Smit in Kaapstad gestig en daar is tans nog sewe lede wat saam met vrywilligers in Kaapstad, George, Germiston, Meyerton Thabazimbi en Jeffreysbaai skenkings vir projekte bekom. Saterdag se konvooi voertuie het met derduisende rande se kruideniersware, groente, lekkers en koeldrank sowel as 15 000 liter water en 31 ton voer by die Kansa veilingskrale buite Oudtshoorn bymekaargekom.
Behalwe vir skenkings wat ontvang is, het Water Warriors meer as R12 000 se kruideniersware, lekkers en groente aangekoop om aan begunstigdes te versprei.
Die begunstigdes was 105 gesinne van 35 plase in die Oudtshoorn-omgewing. Volgens Du Plessis sou nog vragte voer hierdie week vanaf Porterville afgelewer word.
SA Water Warriors se volgende besoek aan Oudtshoorn word voorlopig vir 20 Julie beplan.
Kyk 'n video hieronder:
Lees 'n vorige artikel: Droogtehulp vir Oudtshoorn-boere
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'