LANDBOU NUUS - Pogings om te verhoed dat die uitvoer van volstruisvleis na Europese Unie-lande einde Februarie opgeskort word, was onsuksesvol.
Verteenwoordigers van die Suid-Afrikaanse Volstruis-besigheidskamer (SAVBK) en die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye (DAFF) het op 14 Februarie met die EU in Brussels vergader om te probeer keer dat Suid-Afrika van die lys van lande wat 'n goedgekeurde moniteringsprogram vir residue het, verwyder word. Die Oudtshoorn Courant het op 2 Februarie berig die EU bevraagteken die moniteringsproses om residue in dierprodukte te bepaal.
"Die onderhandelinge was sinvol maar dit was ongelukkig nie meer moontlik om die proses te stop nie," sê Piet Kleyn, hoof uitvoerende beampte van SAVBK.
Sedertdien het die EU 'n regulasie publiseer wat bepaal dat slegs besendings uit Suid-Afrika wat voor 1 Maart gesertifiseer en versend is, deur die EU aanvaar sal word.
Die verbod op uitvoere van rou of hitte-behandelde volstruisvleis vanaf Suid-Afrika na die EU volg op die EU se oudit van residu-moniteringsprogramme van lewende diere en diereprodukte 'n jaar gelede, wat bevind het dat DAFF in 2015-'16 nie die moniteringsplan volledig toegepas het nie. Regstellende aksies was ook nie na wense nie. Die LNR-OVI, DAFF se voorkeur- en gekontrakteerde laboratorium het nie al die monsters getoets of die korrekte toetse gebruik nie. DAFF kon dus nie waarborge lewer dat middels, wat groei in diereproduksie bevorder en deur die EU verbied word, deeglik gemonitor is nie.
"Alhoewel hierdie middels nie in die volstruisproduksiestelsels gebruik word nie, is dit noodsaaklik dat die residue moniteringsprogram die afwesigheid daarvan moet bevestig," sê Kleyn.
"Die lys van lande wat goedgekeur is om na die EU uit te voer word ses-maandeliks gepubliseer en ons doen alles in ons vermoë om te verseker dat Suid-Afrika teen einde Augustus vanjaar weer op die lys verskyn."
Volgens Kleyn word die moontlikheid ondersoek om na ander lande, wat nie tans vir Suid-Afrikaanse uitvoere toeganklik is nie, uit te voer. Die lande is weens verskeie regulasies en die gebrek aan bi-laterale ooreenkomste ontoeganklik.
Die verbod kom op 'n moeilike tyd vir die volstruisbedryf. "Dit is teleurstellend dat die staatsinstansie wat die moniteringsprogram moet uitvoer, nie sy verantwoordelikheid nagekom het nie en daardeur ons boere verder in die moeilikheid gedompel het," sê Laubser Coetzee, Agri Klein Karoo se verteenwoordiger by Agri Wes-Kaap.
"Ons boere word reeds geknou deur die voorkoms van H5N8-voëlgriepvirus, die nuwe minimimloon vir plaaswerkers en die voortslepende droogte. As die droogte nie gebreek word nie, gaan dit 'n ernstige invloed hê op werkgeleenthede in die Klein Karoo."
ARTIKEL: TISHA STEYN
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'