Update
KLEIN KAROO NUUS - Boere in die Klein-Karoo, wat desperaat hulp nodig het om die ergste droogte in 100 jaar te oorleef, het by Alan Winde, Wes-Kaapse minister van ekonomiese ontwikkeling, gaan aanklop. 'n Verslag oor die uitwerking van die droogte, wat reeds vier jaar lank voortduur, is aan hom voorgelê.
Die Klein-Karoo is die tuiste van sowat 300 landbouers, wat kommersiële en kleinboere insluit. Hulle is afhanklik van leibeurte uit twee besproeiingskemas, veral omdat die laaste noemenswaardige reën in 2015 laas geval het. Die besproeiingsdamme en boere se opgaardamme is leeg en riviere en boorgate het opgedroog.
Die Stompdrift- en Kammanassiedam wat water aan sowat 150 boere langs die Kammanassie- en Olifantsrivier tot naby Calitzdorp verskaf, beskik tans oor onderskeidelik 5,7% water en 3,7% water.
Die Calitzdorpdam, wat besproeiingswater aan sowat 50 boere langs die Nelsrivier en die munisipaliteit verskaf, het 12% water. Die Gamkapoortdam, wat water aan sowat 35 boere in die Gamkavallei verskaf, het laas in April 2016 water gehad, sê Ernie Fourie, wat op die Gamkarivier-besproeiingskema. Boere langs die Grobbelaarsrivier in die Schoemans-hoekgebied kan nie tabak, lusern of saadgroente plant nie.
Boerderye benard
Boerdery om-standighede in die hele Klein-Karoo is benard. Volgens Hendrik September van Dysselsdorp is daar sowat 32 kleinboere in dié omgewing wat weens die droogte nie lusern op die oewers van die Olifantsrivier kan plant nie en noodgedwonge van hul vee moet ontslae raak.
Reënvalsyfers in die Herold-gebied, wat die Langkloof en Mount Hope insluit, het van 'n gemiddeld van 250 mm/jaar tot 60 mm/jaar in 2018 afgeneem. "Baie boere in die omgewing moes hul plase verkoop omdat hulle net nie meer geld het om aan te gaan nie," sê Weeber Truter, sybokboer van Herold.
Laubscher Coetzee, volstruisboer van Volmoed en verteenwoordiger van Agri Klein-Karoo by Agri Wes-Kaap, sê die droogte knou volstruisboere wat ten duurste lusern teen R3 500/ ton moet aankoop. Volgens Sunet Vermeulen van die Nasionale Luserntrust het lusernverbouing in die Klein-Karoo sedert 2014/15 met 62% afgeneem.
Op Middelplaas by De Rust het die reënval van 317 mm in 2015 afgeneem na 157 mm in 2017, en vanjaar het nog net 60 mm geval. De Rust se boere is hoofsaaklik afhanklik van water uit die Swartberge wat in die Meiringspoortrivier afloop.
"Die lande lê omgeploeg, maar daar is niks vir die vee om te vreet nie," sê Anton Schoeman. Die Gerolmsrivier wat water aan Klaarstroom-boere verskaf, staan en opgaardamme is sedert 2016 droog. Gevestigde voergewasse het in die tydperk geen opbrengs gelewer nie en groentesaadproduksie het tot stilstand gekom. Honger bobbejane vang skaaplammers en wild vrek.
Arbeid
Elkeen van die nagenoeg 300 boere in die gebied het 5 tot 15 voltydse werkers, wat elkeen gemiddeld vier afhanklikes het. Onder normale reënvaltoestande gebruik boere 50+ seisoenwerkers uit die dorpe.
Die Kammanassiedam het tans slegs sowat 3.7% water.
Die droogte hou kritieke gevolge vir arbeid in. Ladismith en Calitzdorp se wingerd- en vrugteboere trek swaar. "Die droogte het kritieke implikasies wat arbeid betref: as boere nie teen 20 Augustus vanjaar reën kry nie, sal hulle geen tydelike werkers in diens kan neem om te help met voorbereiding vir die oes van vrugte nie," sê Matthys Swart van Ladismith.
Vier Wes-Kaapse ministers reis vandag na Oudtshoorn om met die boere te vergader. Die ministers is: Alan Winde, Ivan Meyer. Donald Grant en Anton Bredell.
Lees 'n vorige artikel: Boere nader minister vir hulp
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'