OUDTSHOORN NUUS - Boere in die Klein-Karoo, wat desperaat hulp nodig het om die ergste droogte in 100 jaar te oorleef, het by Alan Winde, Wes-Kaapse minister van ekonomiese ontwikkeling, gaan aanklop. ‘n Verslag oor die uitwerking van die droogte, wat reeds vier jaar lank voortduur, is aan hom voorgelê.
Die Klein Karoo is die tuiste van sowat 300 landbouers, wat kommersiële en kleinboere insluit. Hulle is afhanklik van leibeurte uit twee besproeiingskemas, veral omdat die laaste noemenswaardige reën in 2015 laas geval het. Die besproeiingsdamme en boere se opgaardamme is leeg en riviere en boorgate het opgedroog.
Die Stompdrift-Kammanassie-besproeiingskema wat water aan sowat 150 boere langs die Kammanassie- en Olifantsrivier tot naby Calitzdorp verskaf, beskik tans oor onderskeidelik 5.7% water en 3.7% water.
Die Calitzdorpdam, wat besproeiingswater aan sowat 50 boere langs die Nelsrivier en die munisipaliteit verskaf, het 12% water. Die Gamkapoortdam, wat water aan sowat 35 boere in die Gamkavallei verskaf, het laas in April 2016 water gehad, sê Ernie Fourie, wat op die Gamkarivier-besproeiingskema.
Boere langs die Grobbelaarsrivier in die Schoemanshoekgebied kan nie tabak, lusern of saadgroente plant nie.
Voor van links is Johan "Klokkie" Fourie, Anton Schoeman en Manie du Plessis, agter van links is George Kersop (Oudtshoorn-raadslid), Joey Potgieter, Laubscher Coetzee, Johan Koegelenberg en Johan Fourie (Oudtshoorn-raadslid). Foto: Tisha Steyn
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'