OUDTSHOORN NUUS - Klein Karoo Saadproduksie (KKS) het verlede week, 1 en 2 Oktober, hul jaarlikse spogfunksie op die plaas Bessemkop buite Calitzdorp gehou.
Dit was ’n spesiale geleentheid wat hierdie jaar ekstra betekenis gehad het, aangesien die Landboukoöperasie sy 80ste bestaansjaar en KKS sy 45ste bestaansjaar gevier het.
Volgens David Malan, besturende direkteur van KKS, is die Koöperasie op 25 Oktober 1945 gestig en het die direksie op 15 Augustus 1980 besluit om ’n afdeling vir hoëkwaliteit produksiesaad te begin.
Die tweedaagse funksie, wat op KKS se plaas, Besemkop aangebied is, het boere van regoor Suid-Afrika gelok wat op kontrakbasis saad vir KKS produseer. Die eerste aand was ’n spoggeleentheid wat deur die personeel gereël is, waar spesiale erkenning aan boere vir hul uitnemende bydraes gegee is. Eretoekennings is oorhandig aan André Geldenhuys van Ceres en dr. Johan Strasheim van Oudtshoorn.
Boere uit die Oudtshoorn-streek het topprestasies behaal
- In OP Geel Uie, groot produksie het Pieter Olivier van Vrisgewaagd Landgoed BK in Prins Albert die eerste plek behaal.
- Jan-Jurie Schoeman van Excelsior Winery in De Rust was wenner in die OP Lenteuie-kategorie.
- Die span van Hardy Wessels en Boeta Schoeman van JH Schoeman in Schoemanshoek het die F-1 Lenteuie gewen.
- In die F-1 Wortels, groot produksie-kategorie het Hennie Grové en Jurie Klue van Avondrust Boerdery in Klaarstroom die eer weggedra.
- Louis Jonck van LJ Jonk in Oudtshoorn is bekroon vir die New Bunching-kategorie.
- In F-1 Wortels, klein produksie het Hennie Grové en Jurie Klue van Avondrust Boerdery weer gewen.
- In OP Wortels het Pieter en Piet Schoeman van Voëlgesang (De Rust) Boerdery die eerste plek behaal.
Naaswenners
- In F-1 Rooi Uie is Gert Borcherds en Karel de Haas van Allicro Karoo in Prins Albert as naaswenners aangewys.
- In OP Rooi Uie, groot produksie, het Johan Strasheim van Johan Strasheim en Genote in Oudtshoorn die tweede plek ingeneem.
- In F-1 Lenteuie is Pieter en Piet Schoman van Voëlgesang (De Rust) Boerdery van De Rust as naaswenners aangewys.
- Stefan Fourie van Rooikloof Boerdery in Calitzdorp is naaswenner in F1 Lenteuie, groot produksie.
- In OP Wortels is Hennie Schoeman van Henk Bank Boerdery in Schoemanshoek met die tweede plek bekroon.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’