OUDTSHOORN NUUS - Agri Wes-Kaap het verlede Donderdag 'n suksesvolle streekkongres by Kansa Krale se veilingslokaal gehou.
Die kongres is deur meer as 70 boere in die streek bygewoon sowel as lede van die departement van landbou, die weermag, polisie en die verkeersdepartement. Vanjaar se tema was, Gevestig in betroubaarheid.
Die verrigtinge het gepas begin met 'n Skriflesing en gebed waarna die gasspreker, Johan Kotzé, aan die gehoor voorgestel is.
Kotzé is die nuwe hoof van Agri SA en is ook 'n gesoute landbouspesialis.
Een van Kotzé se hoofbesprekingspunte, was dat die wêreld se populasie teen 'n geweldige pas groei en dat dit as sulks, beteken dat meer mense van kos voorsien moet word.
Dit in kort, het volgens Kotzé, nie net teweeggebring dat daar meer geleenthede vir boere is nie, maar dat boere ook toenemend sal moet dink aan die bestuur van risiko.
Kotzé het die belangrikheid van tegnologie en internet verduidelik en gesê dat alle-daagse klagtes selektief op sosiale media bekendgemaak moet word, wat later teen hulle gebruik kan word.
Hy het ook die boere aangemoedig om met die regering saam te werk ten einde 'n beter verhouding te bou wat die algehele landboubedryf vorentoe kan vat.
"Sogenaamde influencers op die internet het meer mag as sommige boere wat dink hulle is belangriker. Dit is baie keer net nie die moeite werd om ons battles op die internet te veg nie; daar is ander maniere wat effektiewe kommunikasie insluit. Landbou in Suid-Afrika in tans op 'n baie goeie plek en mens kan dit sien. Opkomende boere sal ook moet besef dat as hulle finansiering by banke en ander instansies wil hê, hulle sal moet bewys dat hulle boerdery volhoubaar is."
Kotzé het ook vlugtig oor die globale klimaatsverandering gepraat en gesê dat dit 'n realiteit is waarvoor boere begrip moet hê. "Jou familie het daardeur gekom, en jy sal ook. Al wat moet gebeur is dat daar 'n kopskuif moet kom oor hoe jy jou boerdery benader," het hy gesê.
Wilhelm Keyser van Agri Bo-Kamma-nassie het tydens sy spreekbeurt die uitdaging aan die kongres bespreek om vir plaaskinders, goeie skoolonderrig te verskaf.
Dit het ook vervoer vir plaaskinders na skoolkoshuise behels. Hierdie aangeleentheid is deur Agri Wes-Kaap vir latere bespreking opgeneem om te bepaal of dit 'n haalbare moontlikheid in die nabye toekoms kan wees.
Ander items wat bespreek is was brand-versekering, sekuriteitskameras en die opkomende 2024-jongboerkompetisie. Die kongres het 'n beroep gedoen op meer plaaslike boere om ook in te skryf vir die jongboerkompetisie.
Jannie Strydom, hoof- uitvoerende beampte van Agri Wes-Kaap het die belangrikheid van jong boere beklemtoon en gesê dat die Suid-Afrika se landbou toekoms in hulle hande is.
Strydom het ook die borg van die kongres, Suid-Kaap Finansiële Dienste, bedank vir hul betrokkenheid by landbou.
Die kongres is na twee ure met 'n heerlike ete afgesluit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’