KLEIN KAROO NUUS - Voer geskenk deur boere elders in die land kom steeds in die Klein Karoo aan om die nood van boere in die wurggreep van die droogte te help verlig.
Die afgelope twee maande het meer as 20 vragte voer, gekoördineer deur individue en instansies, in die Klein Karoo aangekom. Die voer is geskenk deur boere wat naamloos wil bly, en dit is aangery met vervoer en brandstof wat geskenk is.
Die afgelope week het altesaam agt vragte voer deur die bemiddeling van Boere in Nood en ‘n privaat persoon hier aangekom. Nog drie vragte wat deur Gift of the Givers gereël is, kom Woensdag hier aan. Die voer word regverdig onder die boere verdeel.
Twee vragte met altesaam 108 bale voer is by Wilhelm Keyser van Bo-Kammanassie afgelewer. Die vragte oulandsgras, ‘n bietjie armmanslusern en sorghumreste is geskenk deur boere van onderskeidelik Elliot en Barkley-Oos in die Oos-Kaap. Riaan Theron van Bloemfontein en Riaan Rademan en sy mede-besturder Johnson Mbaxa van Cradock is Maandag weg uit die Oos-Kaap.
Hulle het deur die nag gery en in die vroeë oggendure in Oudtshoorn aangekom. Die vervoer is geskenk deur Gys Botha se ZX Logistics van Cradock.
Nog ‘n vrag voer van Aliwal-Noord in in die Oos-Kaap het Sondag ‘n vrag voer by Johan Koegelenberg langs die Rooiheuwelpad afgelaai. Die skenking is gereel deur AfriForum.
Verlede week is twee vragte ruvoer by Laubscher Coetzee op Volmoed afgelaai. Die voer was afkomstig van Amersfoort in Mpumalanga; die vervoer is geskenk deur Hendrik van Wyk vervoer en die brandstof deur Total SA.
Altesaam drie vragte voer met altesaam 140 bale ruvoer uit Danielsrus naby Bethlehem in die Vrystaat is Dinsdagoggend by Koos Grundling en Koos en Ockie Potgieter afgelaai. Die skenking is gereël deur familie en vriende van die Grundlings van Armoed-Noord.
Die vervoer is geskenk deur Gys Botha se ZX Logistics van Cradock.
Altesaam 12 vragte mielies is in Augustus deur bemiddeling van Burre Burger Droogtehulp van anonieme boere van Bothaville in die Vrystaat geskenk. Bulk Logistics van Delmas het die vervoer en brandstof geborg. Die voer aan boere langs die laer-Olifantsrivier, by Gamka, Volmoed en Kammanassie uitgedeel. ‘n Vrag grondboonreste van boere van Theunissen is ook by Badshoogte afgelaai.
“Ons is baie dankbaar vir al die voer, want ons boere se nood is bitter groot,” sê Laubscher Coetzee, boer van Volmoed en Agri Klein Karoo se verteenwoordiger by Agri Wes-Kaap. “Hoër lone en die prys van diesel en elektrisiteit maak die gaping tussen inkomste en uitgawes al groter.”
Hy bepleit enige vorm van hulp, maar veral skenkings van vervoer en brandstof. “Boere landswyd het voer vir ons, maar ons kan nie bekostig om op ons eie vir die vervoer en brandstof te betaal nie.”
Skenkings kan gemaak word aan Klein Karoo Disaster Relief wat geskep is om desperate boere te help. Alle skenkings is aftrekbaar van belasting.
Kontak Helen Butler by Agri Klein Karoo se kantoor by info@agrikleinkaroo.com of 044 279 1425 indien jy ‘n skenking wil maak, of Laubscher Coetzee by 082 898 5941 vir meer inligting.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'