OUDTSHOORN NUUS - Satansbos (solanium elaeagnifolium), wat vermoedelik reeds in 1905 saam met voer uit Mexiko na Suid-Afrika gebring is, kom tans wyd verspreid in die Klein-Karoo, Groot-Karoo, Suid-Kaap, groot dele van die Oos-Kaap, asook Noordwes, die Springbokvlakte en die Vrystaat voor.
Satansbos is volgens wet 'n verklaarde kategorie 1-onkruid wat elke grondgebruiker verplig om die verspreiding daarvan te beheer. Volgens die wet word die huurder of bewoner van die grond, naas die grondeienaar, ook verantwoordelik gehou.
Volgens wet mag die plant nie versprei word nie – ook nie in saad, graan of hooi wat van lande waar dit voorkom, geoes word nie. Landbouers wat die plant goedsmoeds of onwetend versprei, kan beboet word. In gevalle waar satansbos toegelaat word om die veld oor te neem, kan die plaashek gesluit word.
Verspreiding
Satansbos versprei deur saad en elk van tot 60 bessies aan 'n plant bevat tot 1 000 saadjies.
"Groot dele van opvangsgebiede bokant besproeiingsdamme is erg besmet," sê John Fullard van InteliGro, 'n verskaffer van onkruiddoders. "Die saad beland in die damme en word saam met die water versprei." Die saad wat saam met voergewasse geoes word, word so na ander plase versprei, asook deur die mis van diere wat die besmette hooi vreet, deur voëls en water, of deur saad wat aan 'n trekker of ploeg vassit."
Satansbos het 'n uitgebreide wortelstelsel wat tot 3 m diep en 10 m wyd kan groei en sowat 80% van die plant verteenwoordig. Dit kan nie uitgeploeg word nie, want die stukkies wortels wat agterbly groei weer. Om die plant bo die grond af te sny help nie, want die wortels hou aan met groei.
Beheer
'n Effektiewe manier om die plant te bestry is deur die gebruik van onkruiddoder. Die beste tyd is soggens voor sonop tydens die laat blomstadium of groenbessie-stadium. Volgens Fullard is dit moontlik om die plant te beheer indien die onkruiddoder op die korrekte manier en die regte tyd toegedien word. Tesame met die korrekte bestuurspraktyke, soos goeie monitering en goeie opvolgbespuitings, is dit moontlik om satansbos te beheer. "Al die produkte wat satansbos doeltreffend beheer, maak ongelukkig ook lusern dood, wat tot 36 maande lank nie weer daar groei nie."
Die produkte loog ook in die grond in en kan die water besoedel. Die sukses van twee tipes kewers wat as biologiese maatreël uit Mexiko ingevoer is om die plante se blare te vreet, kon nog nie in die Klein-Karoo bepaal word nie.
Fullard meen boere het nie regtig 'n wil om satansbos uit te roei nie. Hulle word ook nie oor die vingers getik as hul besmette hooi verkoop nie. "Beheer is wel moontlik met goeie bestuur wat oor jare toegepas moet word. Selfs al doen elke grondeienaar sy deel, sal dit lank neem om van satansbos ontslae te raak."
Vir meer inligting oor die beheer van satansbos, kontak Sunet Vermeulen-Fenthum, bestuurder van die Nasionale Lusern Trust in Oudtshoorn, by 044 272 8991, of kontak John Fullard van InteliGro by 044 272 6267.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'