Die maatskappy gaan die trust help om sondroogtabak op die plaas op die oewer van die Olifantsrivier in Dysselsdorp te vestig.
Aanvanklik sal net een hektaar tabak op die plaas van 60 ha geplant word. As die kleinboere ‘n sukses daarvan maak en ‘n goeie oes lewer, sal meer volgende jaar aangeplant word.
“Die plaas het ongelooflik baie potensiaal met goeie grond en besproeiingswater en boorgate,” se dr. Piet van Zyl van MASDT, wat in Junie in opdrag van BAT inleidende opleiding in die verbouing van sondroogtabak aan agt kleinboere uit die Klein-Karoo verskaf het. Vyf van hulle het die 52 lede van die trust verteenwoordig. Die opleiding word in Augustus voortgesit met verdere opleiding voordat die eerste tabaksaailinge in September geplant word.
Die tabakprojek bied ‘n uitkoms vir lede van die trust wat ses jaar gelede tot stand gekom het. Altesaam 52 lede se subsidies was nodig om die plaas te bekom en hulle het met ‘n Landbanklening ‘n boerdery met essensiële olies (2ha laventel en 5ha malvas) onder leiding van die Small Enterprise Development Agency (Seda) aan die gang gekry. Die boerdery het platgeval en in 2010/11 het die boerdery doodgeloop. Die trust het in so ‘n mate finansieel in die knyp geraak dat hulle water en elektrisiteitstoevoer afgesny is.
Van Zyl het die plaas vroeër die week besoek om leiding te gee oor waar die tonnels gebou moet word vir die sondroogtabak wat in September geplant word en vroeg volgende jaar geoes kan word.
“Die projek gaan ons baie help om weer op ons voete te kom,” het Samantha Damons, een van die vyf wat opleiding deurloop het, gesê. “Ons is bereid om hard te werk om ‘n sukses hiervan te maak.”
BAT is landwyd waar klimaat-, grond- en watertoestande geskik is besig met projekte waar opkomende boere gehelp word om sondroogtabak te kweek deur opleiding, produksiebeplanning en vestiging van infrastruktuur te finansieer.
‘n Soortgelyke projek is verlede jaar by die Hou Moed Trust op die plaas Olienhoutfontein, ook in Dysselsdorp van stapel gestuur . Die nege lede van die trust het gemengde welslae bereik met hul eerste tabakaanplanting, maar behoort egter vanjaar baie beter te doen. Nog drie opkomende boere van Matjiesrivier het ook deel gevorm van die verlede jaar se groep.
“Die grootste struikelblok met die verbouing van sondroogtabak en waaraan tans baie aandag gegee word , is dat kleinboere tekortskiet wat beplanning, begroting en bestuur betref,” se Van Zyl.
“Dit is maklik om tabak te kweek as jy presies by die program hou. Daar is nie tyd vir leeglê wanneer gewerk moet word nie. Die sukses van die nuwe boer gaan afhang daarvan of hulle bereid is om hard te werk.”

Julian Lingerveldt, Christina Pieterse, Samantha Damons, Susan Lewies en Lena Lewies is lede van die Dysselsdorp Development Trust wat die tabakverbouingskursus bygewoon het. Foto: Tisha Steyn
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn | Klein-Karoo nuus'