OUDTSHOORN NUUS - Opkomende boere van Sakhisizwe-boerdery, Rooiheuwel, het 'n welkome skenking van skadunette van die Oudtshoorn-munisipaliteit ontvang.
Johan Fourie, voorsitter tegniese dienste, vertel die bestuurder van Sakhisizwe-boerdery, Horatious Tom, het hom ongeveer drie weke gelede genader vir hulp om skadunette op te rig om jong volstruise teen die hitte te beskerm.
"Ek het werk gemaak van sy versoek en binne 'n week het die munisipaliteit die aankoop van die nette goedgekeur."
Tom sê die nette is betyds opgesit om koelte tydens die warmste dae te verleen. Volgens hom sou die volstruise waarskynlik gevrek het sonder die nette.
Sakhisizwe-boerdery is vyf maande gelede deur Tom begin en ongeveer 760 jong volstruise loop reeds op die plaas.
Tom het 17 jaar ondervinding in die volstruisbedryf en sê die idee agter die boerdery is om volhoubaar te bly en later werk te skep.
"Dit is nie maklik nie. Die basiese infrastruktuur is hier, maar daar lê nog baie werk voor om die 50 hektaar grond gereed te kry vir grootmaatboerdery."
Hy sê swartbemagtiging binne die volstruisbedryf is vir hom baie belangrik.
Fourie, wat self 'n kenner in die landboubedryf is, het Tom geluk gewens met wat hulle tot dusver vermag het.
"Die voëls wat hier voor my staan, is van die bes versorgde volstruise wat ek nóg gesien het," het Fourie gesê.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'