SUID-KAAP NUUS - Die Outeniqua-skougenootskap is die afgelope paar jaar besig om die jeugafdeling by die George-landbouskou uit te brei.
By vanjaar se skou, wat van 24 tot 26 Augustus plaasvind, is die jeugskou weer op die program en kinders word genooi om nou reeds in te skryf.
Danksy die sukses wat hulle met die George-jeugskou behaal het, is die skougenootskap aangewys as vanjaar se gashere van die Wes-Kaapse jeugskoukampioenskappe.
Die vooruitstrewende genootskap het ook twee nuwe afdelings by die kampioenskap begin, naamlik kulinêre kuns en suiwelbereiding.
"Die kampioenskap het in Maart op die George-skouterrein plaasgevind met die meeste inskrywings ooit vir 'n Wes-Kaapse kampioenskap. Daar is in 14 afdelings meegeding," sê Susan Willemse, sekretaresse en organiseerder.
"Ons beoog om soos by die kampioenskap, weer in al die afdelings inskrywings te kry tydens die George-landbouskou. Kinders wat aan die jeugskou as sportsoort deelneem, moet binne 'n jaar twee streekskoue in sy afdeling doen om sodoende na die Wes-Kaapse kampioenskappe genooi te kan word.
George is 'n streekskou en leerlinge verwerf dus hier in George punte wat tel vir uitnodiging na die kampioenskap."
Tydens die kampioenskappe is daar 'n Wes-Kaapse span gekies wat aan die nasionale kampioenskappe gaan deelneem. Hierdie kampioenskap vind van 1 tot 4 Oktober in Bathurst plaas. Die Wes-Kaap gaan dan vir die eerste keer 'n span neem om in die afdelings kulinêre kuns en suiwelbereiding deel te neem.
"Ons het werwing gedoen vir kinders vanuit George om aan hierdie afdelings deel te neem en ons kon 'n vol span van nege kinders - drie in elk van die drie ouderdomsgroepe - in kulinêre kuns kies, asook vyf kinders vir die afdeling suiwelbereiding."
Kyle Mallett het in die bokkeafdeling deelgeneem.
Finansiering nodig vir kampioenskapkinders
Willemse sê hulle het ook uitgereik na minderbevoorregte kinders om ontwikkeling deel te maak van dié sportsoort. Hierdie kinders wat gekies is, het egter finansiële hulp nodig om na die nasionale kampioenskappe te kan gaan.
"Die kinders wat vir die Wes-Kaapse span gekies is, sal in aksie wees by die komende jeugskou in Augustus, besig om te kook en kaas te maak. Hulle het provinsiale kleure verwerf wat deur die departement van onderwys erken word as 'n sport."
Alle belangstellende kinders word genooi om op Saterdag 26 Augustus deel te neem aan die Jeugskou.
'n Informele jeugskou word ook op Vrydag 25 Augustus aangebied in die bokke-afdeling. "Dit is nie 'n amptelike jeugskou nie, maar is daar vir beginners en diegene wat eers wil seker maak of hulle in die sport belangstel. Ons doel is om kinders geïnteresseerd te kry in die sportsoort en sodoende geleentheid te skep vir hulle om te kan deelneem."
Kinders kan deelneem in die volgende afdelings: Bees (vleis en suiwel), bokke (vleis, suiwel, en bokhaar), skaap (vleis en wol), perde, duiwe (resies en pronk), pluimvee, konyne, suiwelbereiding en kulinêre kuns.
Om op hul beste te lyk, word die bokke gewas voor deelname.
Rig alle navrae aan Susan by 082 881 3305 of susanw@netactive.co.za.
Inskrywingsvorms is by haar beskikbaar.
'Ons bring jou die nuutste Suid-Kaap nuus'