OUDTSHOORN NUUS - 'n Entrepreneur van Neppon is op 'n missie om tuiniers in Oudtshoorn te oortuig om organiese kompos van erdwurms te gebruik eerder as chemiese middels.
Booi Nace (43) het 'n aantal jare gelede die waarde van Kariba-erdwurms besef en met hulle begin eksperimenteer. Volgens hom het hy die eerste klompie wurms, wat oorspronklik van Australië kom, by iemand in Plettenbergbaai gekoop.
Hy en twee vennote, Jumarius Ewerts en Sarah Sass wat beide afgetree is, het sowat drie jaar gelede begin om die erdwurms as 'n stokperdjie te teel.
Nace sê dit was aanvanklik moeilik omdat hy en sy gesin in 'n opslaanhuis in 'n informele nedersetting gebly het. Hulle het egter onlangs 'n huis in Neppon bekom waar hy nou twee 1000liter tenks gebruik om die erdwurms te teel en kompos te maak.
"Die tenks bevat geen grond of sand nie. Ek versamel groente en vrugte en plantreste sowel as papier wat die erdwurms dan in kompos verwerk. Behalwe vir die kompos is 'n ander waardevolle byproduk "wurmtee" wat 'n gekonsentreerde voeding vir plante is. Die vloeistof wat die erdwurms uitskei word onder die tenks opgevang en na houers gelei. Volgens Nace kry hulle tans omtrent 20 liter van die tee per week uit elke tenk.
"Die tee is gekonsentreerd en word baie verdun voordat dit op plante gebruik word," sê hy.
Hy verkoop die kompos saam met die wurms, of die wurms alleen asook die wurmtee wat hy in tweeliter bottels stoor. "Ek kry vreeslik baie navrae van mense wat tuinmaak en hier kom gereeld mense wat wurms en kompos koop. Ek kry ook baie vissermanne wat die wurms vir aas koop"
Hy sê die aanvraag het goed toegeneem nadat 'n radio-onderhoud wat Haidee Muller net na die kunstefees met hom gevoer het, verlede week op RSG uitgesaai is. Nace sê op hierdie stadium verdien hy nog nie 'n groot inkomste uit die erdwurmboerdery nie, maar dis vir hom belangrik om die waarde van die wurms en die herwinning van organiese materiaal by mense te vestig.
Mense wat belangstel in Nace se organiese kompos en wurms of meer inligting benodig kan hom by 062 719 1549 of per e-pos by naceb555@gmail.com kontak.
Hy het ook 'n Facebook-blad, Organiese Erdwurm Span, waar foto's en inligting beskikbaar is.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'