Mnr. Francois Briers, ’n verteenwoordiger van Zimbabwe se voerkraalbedryf, sê groot dele gaan onder erge droogtetoestande gebuk. Zimbabwe se Laeveld en Matabeleland het die afgelope twee weke kol-kol neerslae van tussen 15 mm en 50 mm aangeteken. In Mashonaland was die reënneerslag ook kol-kol. Een boer het 24 mm op sy plaas gemeet en sy buurman hoogstens 10 mm.
Die land se besproeiingsdamme is bykans leeg en in baie dele van die droëlandaanplantings was dit nog te droog vir mielieverbouing. Sojaboere hoop op nog reën en die beeste se kondisie is oor die algemeen swak weens die skaars weiding en ’n geld- en voorsieningstekort.
Zambië
In Zambië is beesboere besorg oor die beskikbaarheid van weiding. Reeds in Junie was die watervlakke in die Zambezi- en ander belangrike riviere, soos die Kafue, besonder laag, wat die opwekking van hidro-elektrisiteit belemmer het.
Mnr. André Nel van Zim Zam Farming in die suidwestelike distrik Mazabuka sê die land se gebruiklike reënpatroon is sowat drie weke laat. Volgens berigte het reën in die koperstreek rondom Ndola voorgekom en met neerslae in Zambië se groot landboustreek Mkushi, waar boere mielies en sojabone kon plant. In die suidwestelike dele van Mazabuka het boere hul landerye voorberei in afwagting op die reën.