Altesaam 125 suiwer black broeivoëls, waarvan 117 verkoop is, het vanjaar onder die hamer gekom - 99 twee jaar oud volstruise (47 mannetjies en 52 wyfies) is individueel opgeveil, terwyl 26 ouer broeivoëls van tussen 3 en 10 jaar (12 wyfies en 14 mannetjies) oud in lotte opgeveil is.
Onder die ouer broeivoëls het drie 2011 wyfies die hoogste prys van R6 500 per eenheid behaal, gevolg deur vier wyfies (gebore 2009- 2010) teen R5 800 per eenheid. Vier mannetjies van 8 tot 10 jaar oud is vir R4 900 per eenheid verkoop.
Die duurste mannetjie onder die twee-jaar oue voëls het R6 500 behaal; die gemiddelde prys vir die mannetjies was R4 669. Die duurste wyfie is verkoop vir R6 800, en die gemiddelde prys vir die wyfies was R5 052.
Die omset was R576 800 wat die gemiddelde prys van al die broeivoëls op R4 930 te staan bring.
Die pryse vergelyk baie goed met die pryse wat behaal is op 31 Maart 2011, enkele dae voordat H5N2 die volstruisbedryf tot stilstand geruk het. Die gemiddelde prys vir mannetjies was toe R2 400 en vir wyfies R3 391.
Die volgende veiling is twee jaar later op 25 April 2013 gehou nadat die bedryf genormaliseer het. Toe is altesaam 237 broeivoëls aangebied, wat almal verkoop is teen 'n gemiddelde prys van R4 400. Die duurste wyfie het egter 'n fenomenale R7 750 behaal.
Die doelwit van die veilings van broeivoëls wat deur die departement van landbou se Oudtshoorn-navorsingsplaas aangebied word, is om 'n bewustheid te skep vir die noodsaaklikheid van ordentlike produksie-rekords, sê dr. Anel Engelbrecht, Direktoraat: Dierewetenskappe. "Goeie teelmateriaal sal bydra tot 'n laer produksiekoste vir die produsent."

Kopers en personeel van Klein Karoo Bpk, afslaers, Oudtshoorn-navorsingsplaas en van die kopers teen die agtergrond van die Swartberge na afloop van die veiling. Foto: Tisha Steyn
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus'