Die klub se jaarvergadering is ook die oggend gehou en Hennie Potgieter van Kruisrivier is aangewys as voorsitter met Mikie du Toit van Humansdorp as ondervoorsitter. Die ander lede van die komitee is Lourens Eales van Ruiterbos, Danie de Wet van Swellendam en Dirkie Potgieter van Oudtshoorn met Wessel Pienaar van Mosselbaai as sekretaris.
Daneel Rossouw, van Nedbank, het die manne ingelig oor die tendense en vooruitsigte vir die landbou en die veebedryf in besonder. Hy meen die vraag na beesvleis sal vorentoe mooi groei.
Kiewiet Ferreira, voorsitter van die Bonsmara SA raad, is ‘n groot saaiboer en Bonsmara-stoetteler van Harrismith waar hy en sy seun Nelius 1 000 geregistreerde stoetdiere by Ferrero Bonsmaras bestuur.
Volgens Kiewiet is die stoetteler se grootste mark die kommersiële boer en moet daar gelet word op sy behoeftes. Die belangrikste punte vir die kommersiële beesboer is vrugbaarheid, maklike kalwing en speen gewig.
Nie net die bul nie, maar ook die koeie en verse is hier belangrik. Pelvis metings om seleksie vir maklike kalwing moontlik te maak moet sterk oorweeg word.
Daar is 36 beesrasse in SA geregistreer waarvan Bonsmara 22% uitmaak. Dit is dus die dominante ras met meer as 400 stoetkuddes. Daar word geraam dat 54% van beeste in voerkrale bonsmaras is.
Daar is ongeveer 3 tot 3,5 miljoen koeie in Suid Afrika en daar word bereken dat daar dus jaarliks sowat 13,000 bonsmara stoetbulle nodig is. Tans word daar so 9 000 stoetbulle uit die hand en op produksie veilings verkoop. Slegs 35% van bonsmarabulle slaag die streng toetse en word gekeur. Afgekeurde diere moet geslag word.
Dok Faffa Malan het gesels oor immuniteit op plase en hoe protein immuniteit bevorder. Volgens wet moet daar ge-ent word teen lam- en miltsiekte en BM.
Vir ‘n virus moet daar voorkomend ge-ent word, hier is knopvelsiekte slenkdalkoors en bees virus diaree (BVD) belangrik. Onthou ook dat ‘n skraagdosis nodig is.
Faffa sê met BVD werk die witbloedselle nie en kan dus nie die infeksie beveg nie. Daar is ook dikwels ‘n te kort aan spoorelemente vernaamlik selenium, sink, koper en chroom wat immuniteit benadeel. Inspuitbare middels is beskikbaar en moet vier weke voor paring en vier weke voor kalwing toegedien word.
Tydens ‘n kragonderbreking moet gewaak word dat entstof se koueketting nie verbreek word nie.
Gerhard van As van Molatek het gesels oor die uitgroei van kalwers op weidings en het hulle nuwe innoverende produk wat kalwers voorberei vir die voerkraal bekend gestel.
Ivan Van Niekerk van Afrivet het gewaarsku teen bosluis oordraagbare siektes een hulle voorkoming en behandeling. Begin vroeg in die lente dip om bosluis bevolkings die hok te slaan.
Danie Olivier, Hotvoor Bonsmaras, het die praktiese demonstrasie gelei en dit was werklik ‘n belewenis om in die fynste detail te hoor hoe beoordeel mens ‘n vers, koei en bul. Pragtige diere vir die bespreking is verskaf deur Hennie en Ockie Potgieter vir wie ons baie dankie sê.
Die dag is afgesluit met ‘n heerlike bonsmarabiefstuk ete en verversings. Daar was gesellig gekuier en die diere is nog lank na die ete bespreek.
Klik hier vir 'n vorige nuusflits.

Danie Olivier van Vryheid (Hotvoor Bonsmaras) wat die praktiese demonstrasie aangebied het.
ARTIKEL: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'