OUDTSHOORN NUUS - Die reën van die afgelope paar weke het verligting gebring, maar nie die droogte gebreek nie.
“In sommige gebiede het dit meer gereën as ander en van die boere langs die Kliprivier, wat deur Waboomskraal vloei, het darem bietjie water gehad,” sê Weeber Truter van die Herold-boerevereniging.
Daar het egter nog min reën in die Outeniekwaberge by Herold, die opvanggebied van die Doringrivier, geval en die opgaardamme is steeds leeg, gevolglik is daar nie besproeiingswater vir weidingsgewasse nie.
Volgens Truter het dit sowat 40 mm gereën in die omgewing van Heimersrivier waar hy met sybokke boer.
“Op ander plekke het dit maar net 7mm of 8 mm gereën en dit lyk sleg in ‘n breë strook van Brakrivier, Zebra en Blossoms tot by Mount Hope.”
Die droogte het ‘n negatiewe invloed op lampersentasie gehad.
Die droogte op Herold.
“Die aanteel was 60% minder as normaal met ooie wat of nie dragtig geraak het nie, of geaborteer het weens die swak toestande.”
By Truter was die aanteel slegs 25% van die normale.
Volstruisbedryf
Volgens Laubscher Coetzee, verteenwoordiger van Agri Klein Karoo by Agri Wes-Kaap, word die uitwerking van die droogte vererger deur ander faktore.
“Weens die aanhoudende droogte moet ons steeds vragte lusern ten duurste vir ons volstruise en vee laat aanry.
"Die prys van lusern gelewer op Oudtshoorn is sowat R2 800 per ton, oftewel R 70 per klein baal.
“Aan die positiewe kant, is die prys van lusernsaad hoër omdat dit net nie beskikbaar is nie. Dis ‘n kwessie van vraag en aanbod.”
Volgens Coetzee is hierdie nie die ergste droogte ooit nie, maar in die verlede het die Klein-Karoo-boere ten minste die volstruisbedryf gehad om op terug te val.
Die nuutste terugslag vir die volstruisbedryf is die moontlikheid dat die uitvoer van volstruisvleis moontlik weer gestaak kan word, soos wat verlede week in die Oudtshoorn Courant berig is.
*Wat die dorp se watersituasie aanbetref het die munisipaliteit hierdie week laat weet dat die Raubenheimerdam se vlak tans op 58% is en inwoners opnuut gemaan om water te spaar en die waterbeperkings streng na te kom.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'