Piet Lodder van Agri-Eden het die konsep aan die mense verduidelik.
Die konsep van 'n Agri Village het in 2008 tydens die ANC se Polokwane-beraad ter sprake gekom toe gesoek is na 'n manier om behuising met besitreg aan plaaswerkers te voorsien. Volgens die wet het 'n plaaswerker verblyfreg op 'n plaas waar hy tien jaar gewerk en afgetree het. Hy kry egter nooit besitreg nie.
Volgens Lodder het die konsep van 'n Agri Village as 'n oplossing na baie beraadslaging tussen verskeie staatsdepartemente op verskillende vlakke tot stand gekom. 'n Agri Village is per definisie 'n landboudorpie in 'n landelike gebied waar gekeurde plaaswerkers gesubsideerde huise kan kry waarop hulle besitreg het.
Hierdie huise moet binne die raamwerk van die staat se standaarde en begroting op geskikte terreine gebou word. Lodder sê dat daar tans vyf terreine in die Eden-distrik geïdentifiseer is vir die beoogde oprigting van ongeveer 1000 huise. Hy voeg ook by dat daar verskeie sleutelrolspe-lers by die konsepontwikkeling van al die fasette betrokke is wat die proses tydrowend maak en daar nie in hierdie stadium 'n tydsverloop of voltooiingsdatum daaraan gekoppel kan word nie.
Die omvattende konsep sluit behuising, munisipale dienste, voorsiening vir geestelike versorging, maatskaplike dienste, kleuterskole, sportgeriewe, klinieke, asook landboukomponente en werksgeleenthede in.

Die model van een van die tipes huise wat gebou gaan word is Donderdagaand aan lede van die De Hoop-gemeenskap gewys.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus'