LADISMITH NUUS - Agri Lasdismith het 'n skenking van R100 000 van Agri Klein Karoo se Klein Karoo Disaster Relief Fund ontvang. Dié skenking gaan aangewend word om honderde honger kinders hierdie Kerstyd te voed.
"Agri Klein Karoo het vroeër vanjaar die Klein Karoo Disaster Relief Fund op die been gebring met die doel om skenkings te bekom om landbouers te help in tye van nood," sê Joey Potgieter, voorsitter van Agri Klein Karoo.
"Klein Karoo Disaster Relief Fund en Agri Klein Karoo se bestuur het besluit om 'n gedeelte van die geld wat reeds aan die fonds geskenk is aan Agri Ladismith se landbouvereniging te bewillig aangesien hierdie landbouers, wat hoofsaaklik vrugteboere is, nie kwalifiseer vir droogtehulp van die regering nie," sê Potgieter.
Agri Ladismith het besluit om die R100 000 uitsluitlik aan te wend om vir plaasarbeiders en hul kinders kos op die tafel te sit in hierdie uitdagende tyd.
Ladismith het om en by 70 plase in 'n radius van sowat 50 km rondom die dorp. Hier word hoofsaaklik met steenvrugte soos perskes, appelkose en pruime geboer, asook lusern, groentesaad, skape en suiwel.
Matthys van der Merwe, algemene bestuurder by Spera Boerdery en Opleiding en ontwikkelingsportefeuljebestuurder van Agri Ladismith, sê die boere is baie dankbaar vir die geld.
"Weens die droogte is daar nie genoeg water vir al die boorde nie, en van die ouer boorde is uitgehaal om die jonger boorde te red. Omdat die oes met sowat 60% afgeneem het, het 750 tot 800 seisoenwerkers geen inkomste gedurende pluktyd verdien nie. Na beraming is 70% van die gemeenskapslede werkloos."
Volgens Van der Merwe word die geld gebruik om die kinders in die gemeenskappe by Zoar en Amaliënstein en rondom Ladismith te voed. "Ons het die gebied opgedeel en R25 000 toegewys aan die gemeenskappe van Ladismith en nog R25 000 aan die gemeenskappe van Zoar en Amaliënstein. Die ander R50 000 sal gebruik word om deernispakkies onder die armstes onder die armes uit te deel."
By Zoar word tans sowat 500 kinders by sopkombuise gevoed. "Die kinders kry in skooltyd kos deur die skolevoedingskema, maar in die vakansie ly hulle honger."
Agri Klein Karoo bestaan uit verskeie landbouverenigings wat boere in die verskillende areas verteenwoordig, naamlik Volmoed, De Rust, Herold, Bo-Kammanassie, Calitzdorp en Ladismith.
Al die areas gaan gebuk onder die erge droogte wat reeds vier jaar voortsleep. Besproeiingsdamme is leeg en boere wat met vrugte, groente, groentesaad en lusern boer, het nie meer raad nie.
Veeboere wat daarvoor aansoek doen en kwalifiseer ontvang hulp van die regering, wat deur middle van Agri Wes-Kaap beding is. Veeboere het ook voer ontvang wat boere elders in die land geskenk het en met die hulp van die rampfonds na die Klein-Karoo vervoer is.
Kontak Helen Butler by Agri Klein Karoo se kantoor by 044 279 1425 vir meer inligting oor die Klein Karoo Disaster Relief Fund.
'Ons bring jou die nuutste Ladismith, Klein Karoo nuus'