OUDTSHOORN NUUS - Die KKNK is nie net 'n fees waar bekende kunstenaars van buite uitstal nie, dit is ook 'n geleentheid waar onontdekte talent blootstelling geniet.
Dit is die geval met die 51-jarige Lindley Theyse wat feitlik sy hele lewe lank skilder, maar nog nie "raakgesien" is nie.
Die Oudthoorn Courant het Theyse Dinsdag aangetref waar hy besig was met 'n muurskildery by die Kuiertuin in St. Johnstraat. Sy jongste dogter, Keisha (9) is sy regterhand en sy vertel met 'n breë glimlag dat sy ook eendag wil skilder.
"As kind het ek my oorlede pa dopgehou terwyl hy geskilder het. Dis hoe ek geleer het. Nou skilder ek al die prente wat in my kop opkom," vertel Lindley.
Volgens hom was dit ook per toeval dat die eienaars van Kuiertuin van hom te hore gekom het.
"Dit is mense wat ek ken wat vir hulle vertel het ek skilder en toe vra hulle my. Die projek gaan nog 'n rukkie duur, want ek moet nog voor en die binneste mure ook verf."
Alhoewel hy reeds vir jare skilder, het Theyse nog nooit in Oudtshoorn uitgestal nie.
"Ek het al op Riversdal uitgestal, maar nog nooit hier nie. Ek het eintlik nog nooit die geleentheid gehad nie."
Theyse sê hy skets nie die kunswerk voordat hy begin skilder nie.
"Dit is tydmors. Ek weet mos hoe dit moet lyk, so ek begin dadelik te verf," vertel hy met 'n breë glimlag.
Hy woon al sy hele lewe lank in Oudtshoorn en het tot ongeveer 2003 vir 19 jaar as manlike verpleër by die Oudtshoorn-hospitaal gewerk .
"Ek sou op 'n stadium oorsee ook gegaan het, maar die planne het toe nie so uitgewerk nie."
Hy woon tans in GG-kamp in Bongolethu in 'n opslaanhut saam met sy vrou en Keisha se twee susters.
"Hierdie een leer nou by my soos ek by my pa geleer het. Ek hoop dat sy eendag ook so skilder," vertel hy met sy arm onder sy Keisha.
Theyse sê sy vrou het 'n aantal jare gelede skielik blind geword en kan dus nie meer werk nie. Volgens hom kry hy nie eintlik die geleentheid om by die huis te skilder nie.
"Verf en kwaste is duur. Ek het al hier en daar vir mense gevra om my te help, maar ek dink nie hulle het my juis ernstig opgeneem nie. My groot droom is dat iemand my iewers eendag sal raaksien en my help om my droom as skilder te verwesenlik."

Lindley Theyse en sy dogter Keisha. Foto's: Hannes Visser
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'