OUDTSHOORN NUUS - ArtKaroo kunsgalery bied weereens ‘n visuele ervaring aan tydens vanjaar se Klein Karoo Klassique.
Die uitstalling, Krans en Kloof open Donderdagaand, 10 Augustus en bevat ‘n groot verskeidenheid werke van bekende kunstenaars wat gereeld deur ArtKaroo genooi word. Janet Dixon, eienaar van ArtKaroo het die volgende oor die opkomende uitstalling gesê:
“Om deur die eeu-oue berge van die Karoo te reis is elke keer ’n oorweldige ondervinding. Meiringspoort, Seweweekspoort, Outeniquaberge; Die landskap ontlok konstante vrae in die diepte van ons psige. Verwondering oor hoe die landskap gevorm het, hoe oud dit is en vir hoe lank dit nog so gaan lyk. Hierdie gevoel van verwondering inspireer en betower kunstenaars en hul pak dikwels die taak aan om hierdie asemrowende landskap te verewig op doek. Van hierdie betowerende landskappe kan gesien word by Krans en Kloof by vanjaar se Klein Karoo Klassique."
Die bekende kabaretkunstenaar, Petronel Baard, tree by die uitstalling op en skrywer en digter, Hannes Visser, het twee gedigte vir die uitstalling geskryf, wat hy sal voorlees.
Die uitstalling open om 18:30 in die ArtKaroo galery agter die Prince Vincent-gebou.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'