OUDTSHOORN NUUS - Sewe leerders van Bridgton Sekondêr en drie volwassenes werk kliphard aan 'n verhoogproduksie wat volgende naweek op die planke is.
Volgens Eureka Mooney-Johannes, wat die regie behartig, vertel Die Asdiamant die hedendaagse storie van 'n groep jongmense wat hulle in die vuur van portuurdruk, sosiale invloede en identiteitskrisisse bevind.
Hulle veg om staande te bly teen sosio-ekonomiese uitdagings, tienerswangerskappe, dwelms en bendebedrywighede. Die teks is deur ds. André Boesak geskryf.
Eureka sê die omstandighede wat in die produksie uitgebeeld word is so na aan die kinders se werklikheid dat hulle dikwels nie toneelspeel nie, maar slegs uitleef wat hulle werklik ervaar.
Die Asdiamant word op 26 en 27 Oktober in die kerksaal van die VGK Oudtshoorn opgevoer. Kaartjies kos R45 en is by die deur beskikbaar.
Die akteurs van Bridgton Sekonêr en medewerkers van 'Die Asdiamant' wat op 26 en 27 Oktober opgevoer word. Voor, van links (sittend): Caitlyn Damens, Eureka Mooney-Johannes, Duvédre Lourens en Idolene coetzee, Agter: Angenique Mintoor, Geronimo Marthinus, Maritza Philander, Janion Kennedy, Lauren Middlecamp en Ricardo Knöll. Foto: Rudy van Heerden
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'