OUDTSHOORN NUUS - Jaydin Abrahams, 'n opkomende skrywer en akteur van Dysselsdorp bring eersdaags 'n toneelstuk uit sy pen op die planke tydens die opkomende AK-47 jeugteater wat op 24 Oktober in Oudtshoorn by die SANW-ouditorium plaasvind.
Abrahams was Vrydag 4 Oktober in die ateljee saam met bekende radiopersoonlikheid, Paul Amas, om te gesels oor die produksie, asook sy drome.
"Ek glo elke geleentheid is 'n uitdaging om te presteer en jou passie uit te leef. Ek werk hard en glo ek gaan 'n groot sukses met my lewe maak en julle gaan beslis meer van my in die toekoms sien, nie slegs as skrywer nie, maar ook as akteur. Dit is vir my belangrik om aan jongmense te wys dat jy wel uit jou omstandighede kan uitstyg en 'n sukses maak, maak nie saak wat jou drome is nie, jaag dit na en moet nooit moed opgee of vertroue in jouself verloor nie."
Abrahams is 'n gr. 10-leerder by Dysselsdorp Sekondêr en skryf en teater lê na aan sy hart. Die produksie, Wat maak tyd, vertel die verhaal van Dream, 'n avontuurlustige tiener wat 'n tydmasjien bou en terugreis om tyd met sy beste vriend, wat oorlede is, te spandeer.
Hy is ook die hoofakteur en sy spel vind plaas onder leiding van nog 'n Dysselsdorper en teatermaker, Elton Louw.
Wat is die AK47-aanpassingsklas?
AK47-aanpassingsklas was maande se werk en toewyding en is op die been gebring deur Ricardo Arendse, Lee-Ann van Rooi en Bianca Flanders-Balie. Hulle het met die onderskeie skole gewerk om onderwysers en leerders op te lei in die vier pilare van teater naamlik: Storie, ontwerp, direksie en opvoering. Die program se visie is om teater as 'n hulpmiddel te gebruik vir leer, selfuitdrukking en gemeenskapsbetrokkenheid.
Leerders van Fezekile Sekondêr, Langenhoven Gimnasium, Dysselsdorp Sekondêr en Bridgton Sekondêr vorm deel van die vertoning.
Vorige berig:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’