Advertorial
OUDTSHOORN NUUS - Die bekroonde Suid-Kaap Kinderkoor, onder leiding van Jan-Erik Swart, pak vanaf 2018 ‘n splinternuwe ontwikkelingsprojek vir talentvolle sangers tussen die ouderdomme van nege tot sewentien aan, met die stigting van twee Klein-Karoo dorps- en streekskore onder die vaandel van die Suid-Kaap Kinderkoororganisasie.
Die uitrol van nuwe streekkinderkore vorm deel van ‘n oorhoofse ontwikkelingsprojek om koormusiek in die platteland van die Klein-Karoo, Eden en Tuinroete van die Wes-Kaap te hervestig. Weens groot afstande en stygende reiskoste, ondervind plattelandse sangers met talent ‘n gebrek aan hoë-vlak blootstelling, ontwikkeling en geleenthede om op te tree.
Om dié redes word oudisies vir lidmaatskap van die Ladismith en Oudtshoorn ‘takke’ van die Suid-Kaap Kinderkoor met die samewerking van plaaslike skole en musieksentrums geloods. Plaaslike kore sal in hul eie dorpe deur die personeel van die Suid-Kaap Kinderkoor en Musiekakademie besoek en ontwikkel word, waaruit verskeie optreegeleenthede geskep sal word.
Presterende lede uit elke koor sal gekies word om die streek, die provinsie en Suid-Afrika op internasionale konserttoere en kompetisies te verteenwoordig, oefenkampe by te woon, en deel te vorm van ‘n jaarlikse massakooruitvoering van alle takke van die koor.
Instrumentaliste word ook nie uitgesluit nie. Die konsert- en toerkore van die kinderkoor sal voortaan deur instrumentale ensembles begelei word, wat dan in ‘n toekomstige junior streeksimfonieorkes ontwikkel sal word.
Gekose lede sal ook die geleentheid gebied word om volgende jaar aan die Wêreld Olimpiese Koorspele, wat tydens die Julie-skoolvakansie in Tshwane aangebied word, deel te neem. Deelname aan hierdie kompetisie, wat meer as sewehonderd topkore vanuit die wêreld trek, is gelykstaande aan Springbok-kleure.
Die Suid-Kaap Kinderkoor het verlede jaar ‘n eersteplek (cum laude) teen 38 lande tydens die 64ste Europese Musiekfees vir Jongmense in België ingepalm. Tydens 2014 se Wêreldkoorspele in Riga, Letland, het die Kinderkoor ‘n wêreld-eersteplek in die Musica Sacra opeafdeling asook drie goue medaljes behaal. In 2013 het die Koor die gesogte Kannaprys vir beste musiekproduksie tydens die KKNK met Chris Chameleon verower.
Belangstellende sangers en instrumentaliste tussen die ouderdomme van nege en sestien kan die volgende sleutelpersone vir oudisies kontak: Sunette Naudé (Laerskool Wesbank, Oudtshoorn) by 071 492 3443; Retha van der Merwe (Die MusiekHuis, Ladismith) by 081 333 4548.
Verdere navrae kan ook aan die korebestuurder, Mimi Haasbroek by 082 585 0632 gerig word. Musici wat as plaaslike dirigente en begeleiers vir die kore wil dien, kan ook aansoek doen.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'