"Ons is baie trots op hierdie skool," sê Lorraine McGibbon van Wildlife and Environment Society (Wessa), wat hierdie program in die Suid-Kaap koördineer. "Ons het die skool sien groei oor die afgelope drie jaar en is baie opgewonde oor die skool se toenemende vermoë om die omgewing naatloos in die kurrikulum te integreer," vertel sy.
Die skool het onlangs nadat die skool se eko-skole portefeulje geëvalueer is, 'n groen vlag verwerf wat volgende jaar voor die skool mag wapper.
Die konsert, met die tema "Ons gaan groen" is einde November opgevoer.
Mary Carr, 'n boervrou uit die omgewing wat sedert 2011 by die skool betrokke is, het die teks en liedjies vir die konsert geskryf. Dit is gebaseer op die gewilde Lollos-televisiereeks en CD met die naam Boem Boem, Ons Gaan Groen.
Hierdie is die skool se tweede groen konsert.
Onder leiding van Carr en Annette Janse van Rensburg (skoolhoof) het die leerders gedurende die vierde kwartaal met groot entoesiasme dekor en die agtergronddoek gemaak. Carr het die kostuums gemaak.
"Bykans alles is uit herwinde materiaal gemaak," vertel Carr. "Dit is ongelooflik hoeveel afval met 'n klein bietjie vindingrykheid omtower kan word in sprokieskostuums of dekor. Ek het dit só geniet om my kreatiwiteit vrye teuels te kon gee," sê sy.
Die konsertstorie se boodskap is eenvoudig: daar moet 'n balans wees tussen mens en natuur. As ons 'groen, gaan, gaan almal oorleef en in harmonie saamleef.

Die leerders van Scheeperskraal spog in hul konsertklere wat van herwinde materiaal gemaak is. Foto: Susan Botha
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn | Klein-Karoo nuus'