VERMAAKNUUS - Aanhangers van die stand-up komediant Schalk Bezuidenhout sal gou moet spring vir kaartjies as hulle hom wil sien optree by vanjaar se Klein-Karoo Nasionale Kunstefees.
Schalk het geen bekendstelling nodig nie. Sy videos op Facebook en Instagram was vir tienduisende Suid-Afrikaners die beste lagmedisyne sedert die inperking begin het. Schalk kuier slegs op 29 en 30 Maart by die fees met twee produksies, Schalk Sing Sleg en Transpirant.
In Schalk Sing Sleg tree hy op saam met die musikant Wesley van der Westhuizen. Sy fans reken hierdie is sy beste vertoning nog.
Verwag stand-up komedie, oorspronklike lirieke en musiek en verskeie instrumente (Schalk speel selfs twee). Kom tuit jou ore en lag jouself 'n papie, want Schalk se liedjies sal jou laat mis, eet, slaap, herhaal én skater!
Schalk Sing Sleg is op Dinsdag 29 Maart om 10:00 en Woensdag 30 Maart om 17:30 in die kykNET-Hoërskoolsaal.
Bespreek by webtickets
TRANSPIRANT
Transpirant is op Dinsdag 29 Maart.
In Transpirant tree Schalk op saam met die akteur en man agter die kykNET-reeks, Hotel, Bennie Fourie. Die vertoning bestaan uit sketskomedie en is propvol improvisasie, 'n bietjie struktuur, 'n liedjie of twee en minstens een ongemaklike stilte. Jy gaan op presies dieselfde manier uit die show stap as wat jy ingestap het, net ligter.
Transpirant is op Dinsdag 29 Maart om 14:00 en Woensdag 30 Maart om 10:00, ook in die kykNET-Hoërskoolsaal.
Bespreek by Webtickets
"Dit is die eerste twee dae van die eerste fees in 'n lang tyd. Dit gaan so lekker wees," sê Schalk. "Julle, dit was te lank. Ons was te lank weg. Maar dit help nie net ons is terug nie, so julle moet ook terugkom, asseblief! Sien julle by die fees!"
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'