OUDTSHOORN NUUS - Wynand Ferreira (25), 'n oudleerder van Langenhoven Gimnasium en gebore Oudtshoorniet, is nou in sy eerste groot rol op die silwerdoek te sien.
Die rolprent Moffie, waarin hy die rol van Niels Snyman vertolk, is by filmfeeste regoor die wêreld vir talle toekennings benoem en begin vandag in plaaslike teaters draai.
Die film handel oor die vernedering en pyn van weermagmans uit die vroeër tagtigerjare wat 'n sekere vorm van manlikheid moes handhaaf om te verhoed dat hulle as minder-man gebrandmerk word.
Ferreira, wat na skool by die Universiteit van Kaapstad 'n honneursgraad in teater en opvoering verwerf het, sê dat hy vir 'n jaar en 'n half oudisies moes doen voordat dié rol in 2018 aan hom toegeken is.
"Van kindsbeen af het ek 'n passie vir drama en het gereeld voor my familie opgetree. Ek is gek daaroor om 'n nuwe genre of styl aan te leer. My rolmodelle in dié bedryf is Gary Oldman en Daniël Day Lewis. Maar my grootste droom is natuurlik om eendag 'n Marvel Avenger superheld te word," skerts hy.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'