"Ons het reeds besluit om die tweede Pink Ostrich Parade volgende jaar oor die naweek van 13 en 14 Desember te hou maar regdeur die jaar elke kwartaal 'n kleiner parade te hou met stalletjies om fondse vir die grote in te samel," sê die man wie se breinkind dit is, Rodney Gelant.
Die fees het gekom om te bly en sal beslis nog groter," het Gelant die week gesê.
"Ons stoutste verwagtinge is oortref. Ons het wye ondersteuning gekry en is baie dankbaar."
Die fees het Vrydagmiddag afgeskop met 'n "Miss Teen"-kompetisie en later die aand die kroning van "Miss Pink Ostrich Parade" in 'n stampvol banketsaal van die Oudtshoorn burgersentrum waar direkteur van die Miss Gay Western Cape Pageant, Mark Donough, en Mej Gay Wes-Kaap, Zillin, twee van die beoordelaars was.
Die jongmense is Vrydagmiddag ook deur Gelant toegespreek oor die 16 dae van geen geweld teen vroue en kinders. Donough se boodskap was die aanvaarding van gay mense in die gemeenskap met die tema van die aand: "Born this way".
Twee "drag" -kunstenaars van George, V2, het 'n gratis vertoning gelewer met Chapido & Friends wat ook opgetree het.
Saterdag se aktiwiteite het begin met 'n klein, maar feestelike straatoptog vanaf die Thusongsentrum in Bongolethu deur die middedorp tot by die Oudtshoorn Wijnhuis waar heeldag groot makietie gehou is met kareoke, optrede deur Paul Amas en Vriende, DJ Nic van George en 'n aantal drag queens.
Volgens Gelant is hy baie tevrede met die eerste poging en glo hy dat dit, net soos die Knysna Loeriefees, sal groei tot een van die grootstes in die land.
Hy meen dat dit ook kan groei tot 'n geleentheid op die kalender wat 'n welkome ekonomiese inspuiting vir die dorp kan beteken.
Volgens Gelant is sewe van die deelnemers aan die Miss Pink Ostrich Parade genooi om volgende jaar aan die Wes-Kaapse Mej Gay kompetisie deel te neem.
Hy het ook gesê dat 'n nie-regeringsorganisasie met die slagspreuk "The Blind Side" eersdaags gestig word wat veral sal fokus op jongmense wat gay en lesbies is. Belangstellendes kan Gelant by 079 951 9799 skakel.

Die Pink Ostrich Parade het vir groot vermaak gesorg by die Oudtshoorn Wijnhuis waar besoekers stalletjies kon besoek en hulself geniet.