OUDTSHOORN VERMAAK NUUS - Die internasionaal-bekroonde kunstenaar, Chris Slabber se jongste uitstalling, Figuur, het Woensdagaand in die Prince Vintcent gebou geopen.
Volgens Slabber is die uitstalling die produk van meer as 'n jaar se werk. Tydens 'n vorige onderhoud het die kunstenaar, wat in grafiese werk spesialiseer, gesê hy was weer lus om sy hande vuil te kry en met ink en te werk.
Sy vorige uitstallings sowel as inskrywings vir internasionale ontwerpkompetisies was hoofsaaklik foto-manipulasies en werke wat uit duisende fyn, reguit lyne bestaan.
Met 'n hele reeks internasionale toekennings op sy kerfstok het hierdie Oudtshoorniet homself die afgelope aantal maande in sy ateljee met buise ink, rubberrollers, stukkies plastiek en enige ongewone voorwerp wat as kwas gebruik word, omring.
Chris Slabber (middel) gesels met gaste tydens Woensdagaand se opening van sy uitstalling.
Die resultaat is meer as twintig uitsonderlike figure wat van naby lyk asof dit bloot swart blertse is wat lukraak op die papier aangewend is, maar vanaf 'n afstand is die detail in elke figuur duidelik sigbaar.
Slabber stel ook van sy vorige lynsketse by die uitstalling ten toon en daar is selfs 'n reeks kleiner lino-werke wat reeds met die intrapslag verkoop is. Die uitstalling is op die eerste vloer van die Prince Vintcent-gebou en is daagliks tydens kantoorure oop. Die uitstalling duur tot 15 Desember en is beslis 'n besoek werd.
Foto: Hannes Visser
Foto: Hannes Visser
Foto: Hannes Visser
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'