SUID-KAAP NUUS - Die negende Klein Karoo Klassique begin vanjaar met kitaar-hoogtepunte in 'n uitvoering deur die virtuose kitaarduo, CH2 wat bestaan uit Corneille Hutten en Dirkie van Staden se eerste optrede by die fees.
Oudtshoorn se fees van klassieke musiek, kuns, kos en wyn word van Vrydag 11 tot Sondag 13 Augustus aangebied.
Hutten sê hulle is baie opgewonde oor die musiek wat hulle gaan uitvoer. "Ons fokus op verskeidenheid en voer stukke uit wat strek vanaf die Baroktydperk tot hedendaagse treffers, getoonset vir klassieke en Spaanse kitaar," sê hy.
Van die musiek wat hulle uitvoer sluit klassieke meesterstukke van Tárrega, Rodrigo, Bach en ander treffers soos Tussen treine, Vyfster en hul eie unieke flamenco-styl komposisies in. Met vlytige vingers, meesterlike tegniek en gemaklike verhoogpersoonlikhede voer hulle 'n kombinasie van klassieke musiek, polsende Latyns, Spaans, Afrika-musiek en 'n skeut nostalgie uit, met unieke klanke in hul eiesoortige styl.
CH2 bestaan al 15 jaar en gaan van krag tot krag, met hulle elfde CD, Insomnia, wat later vanjaar bekendgestel word. Dié CD sal na die uitvoering by Klein Karoo Klassique te koop wees.
Hulle is reeds verskeie kere bekroon, met Sama-toekennings vir beste instrumentale / klassieke album in 2013 en 2012 en as wenners van die Wêreld Klassieke / Flamenco-kategorie in die 2011 Lee Ritenour Six String Theory International Guitar Competition, in Bigfork, Montana as hoogtepunte.
Hulle het ook reeds verskeie suksesvolle internasionale toere en optredes meegemaak. CH2 in konsert vind plaas op Vrydag 11 Augustus om 18:00 in die NG Moederkerk op Oudtshoorn.
Al vanjaar se uitvoerings vind hier plaas. Kaartjies is beskikbaar by Computicket, Shoprite/Checkers en House and Home en kos R125 elk.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Klein Karoo, Hessequa nuus'