PRINS ALBERT NUUS - Ongeveer 25 kunstenaars in en om Prins Albert wat in byna 20 verskillende mediums werk, is weer deel van die Open Studios-tuisuitstalling van 5 tot 8 Julie.
Open Space word elke ses maande aangebied en is die idee van die plaaslike houtdrukkunstenaar Joshua Miles.
Behalwe die vaste uitstalling van ’n verskeidenheid kunswerke in die Prince Albert Gallery in die hoofstraat (Kerkstraat), kan besoekers die kunstenaars oor dié naweek in hul ateljees besoek om te kyk hoe hulle werk. Hulle kan hier van die kunswerke (in sommige gevalle ook afdrukke daarvan) aanskaf.
’n Spesiale roetekaart is by die kunsgalery beskikbaar.
Open Studios word voorafgegaan deur twee werkswinkels. Op Woensdag 3 Julie bied die letterkunstenaar Heleen de Haas “Writing with nature’s tools” op die plaas Aswater (tussen Prins Albert en De Rust) aan, en op Donderdag 4 Julie bied die beeldende kunstenaar, Di Johnson-Ackerman ’n linosnee-werksessie aan. De Haas kyk na skryfpatrone, lettervorming en skeppende skryfwyses. Kunstenaars van “alle vlakke” is welkom, sê sy.
Miles het Open Studios begin nadat hy en medekunstenaars op sy vorige woonplek, Baardskeerdersbos, ’n kunstefees op dieselfde beginsel begin het.
'n Skepping deur Sue Hoppe.
Die afgelope drie Open Studios-uitstallings in Prins Albert het vinnig gegroei, met honderde toeriste wat dan op die dorp toesak en die kunstenaars in hul ateljees besoek.
Van die deelnemende kunstenaars is:
Cobus van Bosch, Kevin de Klerk, Sally Arnold, JP Meyer, John O’Sullivan, Janet Dirksen, Joanna Orr, Di Van der Riet-Steyn, Jurgen Schadeberg, Sheila Coutouvidis, Kashief Booley, Renée Calitz, Hélène Smit, Pat Hyland, “Brita Dolls”, Sue Hoppe en Lara Evans.
Vir meer inligting oor Open Studios:
- collettehurt@gmail.com
- karoogallery@intekom.co.za
- 023 5411 057
Juweliersware deur Di van der Riet-Steyn.
'Ons bring jou die nuutste Klein Karoo nuus'