OUDTSHOORN NUUS - Deel van die vol musiekprogram van vanjaar se Klein Karoo Klassique op Oudtshoorn is 'n keur van snaarinstrumente, bespeel deur verskeie bekroonde kunstenaars.
“Die intensiteit en nuanse van hierdie snare, wat strek van viool en tjello tot kontrabas en klassieke kitaar, beloof om gehore by die Klein Karoo Klassique van Donderdag 8 tot Sondag 11 Augustus te bekoor,” vertel Hugo Theart, artistieke direkteur van die fees.
In Sublime String Quartets from Bohemia neem die Amici Strykkwartet, een van Suid-Afrika se voorste kamermusiek-ensembles, die gehoor op reis deur werke van die voorste strykkwartet-komponiste in die geskiedenis. Komponiste uit Wene, waaronder Mozart, Haydn, Beethoven en Schubert word uitgevoer sowel as werke van die Tsjeggiese kwartet-komponis, Dvoák.
Sien Suzanne Martens (eerste viool), David Bester (tweede viool), Karin Gaertner (altviool) en Peter Martens (tjello) op Sondag 11 Augustus om 11:00 in die NG Moederkerk vir hierdie uitvoering.
Violin Dialogue is in 2018 met die kykNET Fiësta vir beste prestasie in klassieke musiek én beste klassieke musiekproduksie by Aardklop bekroon. Die befaamde Suid-Afrikaanse en Bulgaarse violiste, Zanta Hofmeyr en Miro Chakaryan, voer ’n opwindende program van virtuose vioolduo’s uit. Hulle word in die uitvoering op Saterdag 10 Augustus om 10:30 deur pianis, Olive Sandilands begelei.
In Trio du Cap Classique op Vrydag 9 Augustus om 10:30, kombineer David Pinoit (tjello), Liesl Stoltz (fluit) en François du Toit (klavier) werke vir tjello, fluit en klavier, waaronder Felix Mendelssohn se Trio in D-mineur asook C.M. von Weber se Trio in G-mineur Opus 63. Die program eindig met Herfs deur Argentynse tango-komponis, Astor Piazzolla.
LA FEMME! – A Celebration of Music and Dance is ’n visueel- en ouditief- betowerende produksie. Dit kombineer op Donderdag 8 Augustus om 18:30 die passie, geesdrif en intensiteit van outentieke, kontemporêre Flamenco-dans met die warm, komplekse, sensuele klanke van klassieke kitaar. Internasionaal-bekroonde danser en choreograaf, Tanya Diamond, en konsert-kitaarspeler en lektor aan die Stellenbosch Konservatorium, Nina Fourie-Gouws, bied werke van Albéniz, Brouwer, Barrios, Domeniconi, Ibert, Tárrega en Vivaldi. Lede van die SoloFLAMENCO dansstudio bied tradisionele Spaanse begeleiding, met onder andere kastanjette, klapkassies en palmas.
’n Spesiale kaartjiepakket, moontlik gemaak deur die ondersteuning van die Rupert-Musiekstigting, stel feesgangers in staat om elke noot by Klassique te hoor en boonop R240 te spaar.
“Feesgangers moet gou speel vir hul pakkette, aangesien dié aanbod uiters gewild is en vinnig uitverkoop,” sê Theart.
Die volledige feesprogram is beskikbaar by www.klassique.co.za en kaartjies kan by Computicket, Shoprite/Checkers, House & Home, of aanlyn by www.computicket.com gekoop word. Vir meer inligting, kontak Kunste Onbeperk se kantoor by 044 203 8600, of info@kunste.org.za.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'