OUDTSHOORN NUUS - Al is jy nie ingeënt nie, is jy steeds welkom om vanjaar se Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) by te woon, maar daar is wel enkele bepalings en voorwaardes wat sal geld om alles vlot te laat verloop.
Die KKNK vind in sy aangepaste nuwe vorm van 29 Maart tot 3 April op Oudtshoorn plaas.
Die besluit om 'n inentingsmandaat toe te pas, is daarop geskoei dat die KKNK die veiligste moontlike fees aan sy besoekers, kunstenaars, personeel, diensverskaffers en die gemeenskap van Oudtshoorn wil verseker. Dít behels om riglyne te volg soos aanbeveel deur gesondheidsowerhede.
Hugo Theart, artistieke direkteur van Kunste Onbeperk, sê alle moontlike veranderlikes word deurlopend deur die KKNK oorweeg en in oorlegpleging met 'n advieskomitee van regs- en mediese deskundiges word moontlike aanpassings en toegewings gemaak.
"Ná 'n afwesigheid van twee jaar is die fees terug in Oudtshoorn met die bedreiging van Covid-19 wat steeds in ons midde is. As feesorganiseerders moet ons die beste oplossings probeer vind om 'n veilige omgewing te skep vir 'n groot massa feesgangers en alle ander betrokkenes om blootstelling aan die virus maksimaal te beperk.
Inentingsmandaat
"Die KKNK volstaan by die toepassing van 'n inentingsmandaat ter beskerming van alle betrokkenes. Ons gee egter terselfdertyd die versekering dat oningeënte persone nié weggewys sal word nie, mits hulle aan die voorwaardes en bepalings voldoen soos vervat in die mandaat."
Hierdie voorwaardes en bepalings sluit in 'n negatiewe vooraf voltooide antigene sneltoets óf 'n PCR-toets. Mense wat bewyse van inenting óf 'n negatiewe Covid-19-toetsresultaat kan lewer, sal van 'n toegangskenteken – 'n armband – voorsien word.
Die proses wat gevolg sal word, is eenvoudig. Beamptes sal die besoekers se inentingskaart/-sertifikaat (papier of elektronies) nagaan teenoor jou identiteitsdokument (groen ID met strepieskode of ID-kaart), paspoort of geboortesertifikaat en dit verifieer. Dieselfde geld vir buitelandse persone wat soortgelyke bewyse van inenting in hul land sal moet toon.
Indien jy die fees wil besoek met bewyse van 'n negatiewe Covid-19-toets, hetsy deur 'n PCR- of antigeensneltoets, sal dit ook by alle lokale nagegaan word. Hierdie toetsuitslae mag nie voor 28 Maart wees nie (vir die publiek) en voor 26 Maart vir leweransiers en kontrakteurs nie. Jy kan ook bewys lewer dat jy die afgelope drie maande positief getoets het vir Covid-19.
Kinders onder 12 is van bogenoemde bepalings en voorwaardes kwytgeskeld en het dus vrye toegang toe alle lokale.
Kinders tussen 12 en 18 jaar moet wel aan die bepalings voldoen.
Lees die volledige inentingsmandaat op hul webwerf.
Theart sê: "Ons vra die publiek se geduld en samewerking om alle prosesse seepglad te laat verloop - soos ons ook die versekering gee dat die KKNK alles in sy mag sal doen om dieselfde aan ons feesgangers te bied, wat gewoond is aan 'n gehalte-ervaring."
Kaartjieverkope
Kaartjieverkope het reeds op 3 Maart by die kaartjiebesprekingsportaal Webtickets vir die publiek geopen. Bespreek jou kaartjies spoedig.
Kaartjies kan ook by enige Pick 'n Pay landwyd, of by hul kantore in Jan van Riebeeckstraat 217 op Oudsthoorn gekoop word. Intussen stoom die feesbeplanning voort.
Bespreek gerus verblyf vooruit deur LekkeSlaap. Word 'n Vriend van die KKNK vir toekomstige afslag op kaartjies en vroeë kaartjiebesprekingsregte of sluit aan by hul nuusbrief deur hul webwerf by www.kknk.co.za te besoek vir meer inligting,
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'