TUINROETE | KAROO NUUS - Die finaliste van vanjaar se KKNK Dramaweb SA-kompetisie is bekend.
Hierdie leerders se video-inskrywings is sorgvuldig uit honderde in dié gewilde aanlyn dramakompetisie gekies, en finaliste sal mekaar in die nasionale eindronde tydens ’n regstreekse uitsending op 18 Junie op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) se YouTube-kanaal en webwerf, die verhoogstryd aansê.
Hierdie opwindende proses het tydens verlede jaar se eindronde sowat 15 000 kykers gelok.
Ira Blanckenberg, stigter en sameroeper van die kompetisie (wat in samewerking met die KKNK aangebied word), sê dat die beoordelaars baie beïndruk is met vanjaar se KKNK Dramaweb SA inskrywings, wat weer van oor die land heen ingestroom het.
“Dit was weereens vir ons heerlik, hoewel daar natuurlik baie deeglik na alle elemente gekyk is om opbouende terugvoer te kan verskaf om vanjaar se werk te beoordeel en die finaliste te kies.
Dit bly ’n feit, ons land is gevul met talentvolle aspirant-akteurs. Die doel van KKNK Dramaweb SA bly dieselfde, ons wil jong akteurs se talente help slyp en daarmee saam vir hulle waardevolle vaardighede leer wat hulle kan saamneem op die pad vorentoe, soos die selfvertroue, kreatiewe denke, kommunikasievaardighede en dissipline wat hulle uit deelname aan die kompetisie in hul persoonlike arsenaal kan toevoeg.”
Die kompetisie is oop in verskeie afdelings vir beide Afrikaanse en Engelse deelnemers, wat ongedramatiseerde gedig en/of prosa, gedramatiseerde gedig en/of prosa, voorbereide lees, monoloog en selfs mimiek insluit.
Die Afrikaanse program sal op 18 Junie as volg plaasvind:
(Die Engelse eindronde sal op 19 Junie vanaf 09:30 plaasvind)
- 09:00 - graad RR tot 1
- 10:00 - graad 2 tot 4
- 11:00 - graad 5 tot 7
Middagete
- 13:00 - graad 8 tot 10
- 15:00 - graad 11 tot 12
- 17:30 - Regstreekse aankondiging en prysuitdeling van die top drie in elke kategorie
Vir die KKNK lê die ontwikkeling en opbou van die jeug se dramatalent ons na aan die hart, sê Hugo Theart, die KKNK se artistieke direkteur.
“Hierdie is ’n vennootskap wat die KKNK met trots ondersteun, aangesien dit spreek tot dieselfde doelstelling wat ons ook probeer uitleef; om ’n platform vir die kunste en letterkunde te wees, en ’n hulpbron wat leerders kan help om ’n moontlike toekoms in die uitvoerende kunste te kies, en ook gehore en ondersteuners van die kunste te kweek.”
Die eindronde word regstreeks op die KKNK Dramaweb SA webwerf uitgesaai by kknk.co.za/dramaweb-sa en die beoordelaars sal die regstreekse optredes hier aanlyn evalueer.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'