Die drie produksies is Dogma, Rondomskrik en Samsa-masjien. Twee van die regisseurs, Christiaan Olwagen (Dogma) en Jaco Bouwer (Samsa-masjien), kry ook vanjaar erkenning met die Absa KKNK se Afrikaans Onbeperk-vererings.
Dean-John Smith en Edwin van der Walt, twee jong akteurs in Braai, is benoem vir die Slurpie Kanna vir Beste Opkomende Kunstenaar. Braai, geskryf deur die joernalis Willemien Brümmer, is die eerste wenteks van Die Dagbreek Trust-teks-ontwikkelingsprojek.
Vanjaar se Kannapaneel is Erns Grundling (sameroeper), Abduraghmaan Adams, David April, Charl Bezuidenhout, Ronnie Burton, Diane de Beer, Chrisna du Preez, Cornelia Faasen, Deon Maas, Laetitia Pople, Louis Pretorius, John Theodore, Cobus van Bosch, Johan van der Merwe, Naudé van der Merwe en Celeste Williams.
"Die paneel se ywer, kundigheid en entoesiasme tydens ons oggendvergaderings se driftige bespre-kings was merkwaardig. Hulle het gemid-deld meer as 30 vertonings elk tydens die week gekyk en ná deeglike besinning op die uiteindelike nominasies besluit," het Grundling gesê.
Al die produksies op die amptelike feesprogram kom in aanmerking vir 'n Kanna en vanjaar is daar benoemings in elf kategorieë – die Kanna vir beste komedie is 'n nuwe kategorie.
Die Kannapaneel het Dogma, Rondomskrik en Samsa-masjien vir die Kanna vir beste teater-aanbieding genomineer.
Die lelike eend, The Epicene Butcher en Waterpas is vir die Kanna vir beste komedie genomineer en Albert Pretorius in Dogma, Gerben Kampen in Samsa-masjien, en Richard September in Rondomskrik is vir die Kanna vir beste akteur genomineer. Die paneel het verder ook vir Anna-Mart van der Merwe in Macbeth.slapeloos, Antoinette Kellerman in Samsa-masjien en Rolanda Marais in Dogma vir die Kanna vir beste aktrise genomineer.
Nominasies vir die Kanna vir beste musiekproduksie is Arno en Francois, Finding Emo en Hart en see met Laurika Rauch en Elvis Blue.
7 dae van die Skepping en Homage – 'n Huldiging van Suid-Afrikaanse komponiste is vir die Kanna vir beste klassieke musiekuitvoering genomineer en Christiaan Olwagen in Dogma, Hennie van Greunen in Rondomskrik en Jaco Bouwer in Samsa-masjien is vir die Kanna vir beste regie genomineer.
Dogma, Rondomskrik en Samsa-masjien is genomineer vir die Kanna vir beste bebuutwerk en vir die Herrie Kanna vir kopverskuiwende werk en nominasies vir die Slurpie Kanna vir beste opkomende kunstenaar is Dean-John Smith vir sy spel in Braai, Edwin van der Walt vir sy spel in Braai en Richard September vir sy spel in Rondomskrik.
Die paneel het besluit Hannelie Taute met haar kunswerk Rubber ever after, Phillemon Hlungwani met sy kunswerk Mi Kondzo Ya Tinghwazi (In the footsteps of heroes) en Michael Hammond met sy kunswerk Orania vir die Kanna vir beste visuele kunsaanbie-ding te nomineer.
Op versoek van die Kannapaneel is daar vanjaar 'n eervolle vermelding vir die puik ensemble-spel van die akteurs in Dogma en Rondomskrik.
Die wenners word op Sondag, 11 Mei in die Mount Nelson-hotel in Kaapstad aangekondig. Owen Claassen, 'n plaaslike Klein-Karoo-kunstenaar, maak weer vanjaar die wenners se beeldjies.

'n Toneel uit Braai.
'Ons bring jou die nuutste Klein-Karoo nuus'